Verslag oor die gevaar
van besmetting en
Opdrag: Om
die gevaar van besmetting en aansteeklike siektes tydens Nagmaalsviering
te ondersoek. Hoe
ontstaan siektes? Parasiete,
bakterieë en virusse, wat biologiese faktore is, kan siektes veroorsaak.
Sekere organismes wat siektes kan veroorsaak, kan met die blote oog gesien
word, bv. wurms en insekte. Mikroörganismes wat so klein is dat 'n mens
dit slegs met 'n mikroskoop kan sien, soos eensellige diere (protosoa,
swamme, bakterieë en virusse) kan ook siektes veroorsaak. Protosoa
Eensellige
diertjies kan ook siektes veroorsaak, byvoorbeeld die amebe wat 'n vorm
van buikloop veroorsaak. Swamme
Verskillende soorte mikroskopiese klein swamme (skimmels) kom op die vel en in die slymvliese voor en veroorsaak meestal geen siektes nie. Die klein mikroöganismes leef in ewewig met ander organismes, soos bakterieë. Wanneer die omgewing egter versteur word, deur byvoorbeeld antibiotiese behandeling of wanneer die normale weerstandsvermoë van die liggaam teen siektes swakker word, kan die skimmel skielike afwykings veroorsaak. Baie velsiektes word deur skimmels veroorsaak. In die mondholtes van kinders veroorsaak die skimmels sproei, wat as klein wit kolletjies op die slymvlies waargeneem kan word. Bakterieë
Bakterieë
is klein eensellige organismes wat goed ontwikkel is om stowwe af te skei.
Bakterieë vermenigvuldig vinnig en baie soorte bakterieë kan vinnig
beweeg. Baie bakterieë doen die mens geen kwaad nie en word gebruik deur,
en is selfs onmisbaar vir die bestaan van mense en diere. Bakterieë word
meestal op die vel en slymvliese aangetref. Net soos skimmels, kan
bakterieë siektes veroorsaak wanneer daar versteurings in die omgewing is
of wanneer die liggaam se weerstandsvermoë verminder. Bakterieë wat
siektes veroorsaak, word patogene genoem. Deur 'n verandering in die
genetiese samestelling kan 'n onskuldige bakteriestam in 'n stam verander
wat siektes veroorsaak. Die weerstand van bakterieë teen antibiotika kan
ook verander sodat eens gevoelige bakterieë skielik 'n weerstand teen die
antibiotiese middel ontwikkel. Bakterieë veroorsaak patalogiese
veranderinge in die organe; dit gebeur deurdat die weefsel afgebreek word
of deurdat die bakterieë gif, wat ons toksien noem, produseer wat op sy
beurt ernstige patalogiese veranderinge tot gevolg het, byvoorbeeld
klem-in-die-kaak. Virusse Die
kleinste van die mikroöganismes is die virus wat net uit proteïenmolekule
bestaan. In teenstelling met bakterieë en skimmels, kan virusse slegs
groei en vermenigvuldig in 'n lewende sel. Virusse wat siektes veroorsaak,
word gewoonlik in bepaalde liggaamsweefsels aangetref. Polio en
gordelroosvirusse vind self hul weg na byvoorbeeld die senustelsel. Die
virusse wat gewone verkoues veroorsaak, versprei meestal deur die
slymvlies. Bykans alle virusse wat siektes veroorsaak, is ongevoelig vir
antibiotika. Verspreiding
van infeksies
Bronne
van infeksie
Stowwe
wat infeksie veroorsaak, word in die grond, in diere of in plante
aangetref. Besmettingsbronne
kan die bloed of die uitwerpsels van diere en mense wees en ook grond met
kieme wat byvoorbeeld aan groente en knolplante klou. Mense wat
aansteeklike siektes oordra (die sogenaamde draers) kan in 3 groepe
ingedeel word: gesonde draers, aansteeklike gevalle
in die inkubasieperiode (die tyd wat verloop van die infeksie tot die
uitbreek van siekte) en die siek draers. Hoe
bly so 'n aansteeklike organisme aan die lewe?
Die
vermoë van aansteeklike organismes om buite die menslike liggaam te bly
lewe, wissel baie. Bepaalde bakterieë soos stafilokokke en
tuberkulosekieme kan 'n paar weke lank in 'n verrottende toestand, op vuil
oppervlakke en in stof bly lewe. Ander bakterieë het 'n vogtige omgewing
nodig om te kan voortbestaan. Masels,
waterpokkies en griepvirusse verloor vinnig hul vermoë om aan te steek as
hulle eers buite die menslike liggaam is, terwyl hepatitis (geelsug) sy
vermoë om aan te steek in ‘n gunstige omgewing, soos in bloed,
uitwerpsels en water, lank kan behou. Maniere
waarop infeksies versprei word
Besmetting
kan regstreeks deur 'n siek mens veroorsaak word, of onregstreeks deur
besmette voorwerpe, bv. hande en klere van diegene wat siekes versorg.
Voorbeelde van siektes wat hoofsaaklik deur regstreekse kontak versprei
word, is geslagsiektes. Besmetting via lug en stof vind plaas wanneer
die smetstof van die siekte, deur nies of hoes in die vorm van klein
druppeltjies 'n geruime tyd in die lug sweef, soos by tuberkulose. Die
smetstof kan ook in stof voorkom. Smetstof kan so deur lugstrome of
lugreëlingsgange oor groot afstande in 'n gebou vervoer word. Voedsel
en water is dikwels ook maniere waarop aansteeklike siektes soos cholera
en maagkoors versprei kan word. Deur sorgvuldige kontrole van voedsel
kan die siektes aansienlik beperk word. Voedselvergiftiging wat veroorsaak
word deur bakterieë wat toksiene in voedselsoorte afskei wat nie goed
bewaar word nie, kom dikwels voor. Sekere soorte lewerontsteking (hepatitis)
en polio behoort tot die siektes wat deur water versprei word. Besmetting
via water vind meestal deur drinkwater plaas, maar sekere siektes kan
ook deur badwater versprei word. Insekte kan ook infeksies versprei
deur regstreekse kontak of deur 'n steek of 'n byt. Vlieë kan byvoorbeeld
smetstowwe op kos agterlaat. In tropiese lande kom baie siektes voor
waarin insekte 'n belangrike rol speel. Die
vatbaarheid van die individu
'n
Infeksiesiekte kan ontstaan wanneer 'n bepaalde hoeveelheid van die stof
ingeneem word en die persoon vatbaar daarvoor is of ‘n verlaagde
weerstandsvermoë het. Siek en bejaarde mense is baie vatbaar aangesien
hulle weerstandsvermoë laag is. Seerplekkies op die vel of in die
slymvlies kan gepaard gaan met verminderde weerstand vir infeksies.
Die weerstandsvermoë kan deur goeie voeding verhoog word. Infeksiesiektes
Lewerontsteking
(hepatitis) Die
hoeveelheid galkleurstof in die bloed neem tydens die aandoening toe omdat
die lewer dit nie meer kan verwerk nie. Daarom word die vel geel en van
daar die benaming geelsug. Oorsake
Daar
is drie soorte lewerontsteking, wat almal deur 'n virus veroorsaak word
naamlik hepatitis A, hepatitis B en hepatitis C.
Hepatitis A bring soms hewige
epidemies mee. Die infeksie versprei via die bloed of water wat besmet is
deur die ontlasting van mense wat die siekte het. Die inkubasietyd is van
2 tot 6 weke. Hepatitis A kan
ook oorgedra word deur eetgery of ‘n tandeborsel met ‘n hepatitis
A lyer te deel. Hepatitis
A genees gewoonlik binne ‘n maand. In
die geval van serumhepatitis
of hepatitis B kan die
infeksiestowwe oorgedra word deur 'n bloedoortapping of inspuitnaalde wat
met bloed besmet is, byvoorbeeld deur iemand wat aan dwelmmiddels verslaaf
is. Ook via die bloedstroom uit swere of skrape op die vel van sportlui
kan virale hepatitis B versprei word. Dit kan ook deur seksuele of ander
intieme kontak versprei word. Hepatitis C word net deur bloed oorgedra en
veral deur bloedoortappings. Behandeling
Diegene
wat baie siek is, word in ‘n hospitaal opgeneem. Dit is egter nie
noodsaaklik om die voltyds in die bed te bly nie. Diegene wat nie in 'n
hospitaal opgeneem hoef te word nie, kry geen spesiale behandeling, buiten
rus, nie. Die verloop van die siekte verskil ook baie, maar meestal kan
dit binne 3 maande genees. Die afgelope tyd bestaan daar ook 'n inentstof
teen hepatitis B. Aangesien die infeksie in die geval van hepatitis B via
die bloed oorgedra word, moet jy veral versigtig wees met sweertjies en
skrapies. Tuberkulose
'n
Volgehoue immunisasieveldtog het die voorkoms van tuberkulose drasties in
Suid-Afrika verminder. Met sekere tye styg die voorkomssyfer egter weer
kwaai en is hernieude maatreëls en voorligting nodig. Swak behuising,
ondervoeding, probleme om aansteeklike gevalle op te spoor en versuim van
pasiënte om met behandeling voort te gaan, is die vernaamste bondgenote
van tuberkulose. Oorsake
Tuberkulose
is 'n chroniese ontsteking wat veroorsaak word deur die tuberkelbasil. Die
infeksie word, of in klein druppeltjies of stof, via die lug versprei as
gevolg van hoesery van diegene wat aan die siekte ly. Verloop
van die siekte
Weefselreaksies
ontstaan in die longe indien die besmette persoon se weerstand verminder
het. Die proses duur meestal 4 tot 6 weke nadat iemand die siekte
aangesteek het. Klein knoppies ontstaan op die plekke waar die bakterieë
gevestig het. (Die siekte kry sy naam van die Latynse woord vir knoppie,
tuberculum.) Die nabygeleë limfkliere word ook aangetas. Die primêre
ontsteking verdwyn weer meestal sonder dat simptome voorkom. Die bakterieë
kan intussen via die bloed na ander liggaamsorgane versprei. Dit kan
tydens die primêre infeksie plaas vind of etlike jare na die infeksie. Longtuberkulose
Simptome Wanneer
die bakterieë van die primêre plek van infeksie in die longe versprei,
ontstaan simptome van longontsteking, bv. hoesbuie en steke in die bors.
Dit duur lank en in die algemeen kom simptome soos moegheid, nagtelike
sweet, koors en gewigsverlies voor. Bloed in die sputum (hoesslym) is 'n
ernstige simptoom. Deur die afbreking van die longweefsel kan 'n holte
ontstaan waar die bakterieë hulle kan vestig. Die slym is in sulke
gevalle hoogs aansteeklik. Voorkomingsmaatreëls
Voedsame
kos in voldoende hoeveelhede is van wesenlike belang as 'n mens weerstand
teen tuberkulose wil ontwikkel. Immunisasie is die vernaamste voorsorg
teen hierdie siekte.
Verslag
van Prof. Dr. B. C. Jansen soos gepubliseer in Die Kerkblad 4 April 1990 Die
Beker en siektes
'n
Valstrik vir gelowiges in die nagmaal? Is
die gemeenskaplike nagmaalsbeker nie 'n bron van aansteeklikheid van
besmetlike siektes nie? Hierdie vraag het vir baie gelowiges 'n kwelling
geword, veral vanweë die stroom berigte oor die gevreesde Vigs (verworwe
immuniteitsgebreksindroom) waardeur ons deur die daaglikse media oorspoel
word. Die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand het in 1986 'n wetenskaplike
ondersoek oor die aangeleentheid onderneem. Op versoek van Klassis Suidelike
Pretoria het hierdie artikel in Die
Kerkblad van 17 Desember 1986 verskyn. Deur dringende versoeke van
lesers plaas ons hierdie artikel weer eens. Die saak is nou nog meer aktueel.
Prof. dr. Jansen was (hy is intussen oorlede) een van die grootste
outoriteite (natuurwetenskaplike en medikus) op hierdie gebied. Daarby was
hy 'n innige gelowige Christen en kerkman. Twaalf
persent alkohol
Nagmaalwyn
bevat ongeveer twaalf persent alkohol sowel as ander stowwe, soos tannien.
Hierdie stowwe kom in genoegsame konsentrasie voor om oor die lang periode
wat wyn opgeberg word, enige kiem of virus te vernietig. Daar kan dus
uitgegaan word van die feit dat die nagmaalwyn self vry is van enige
siekteveroorsakende organismes. Trouens, die nagmaalwyn is 'n baie
ongunstige medium vir die voortbestaan of oordraging van enige
siekteveroorsakende organismes wat ook van buite af daarby gevoeg sou word. Daar
moet egter aanvaar word dat siekteveroorsakende organismes deur die lippe
van 'n draer daarvan op die rand van die beker agtergelaat kan word. Enige
wetenskaplike sal deur kultuurkweking kan aantoon hoeveel verskillende
organismes daar in werklikheid op die rand van die beker na 'n nagmaalsronde
teenwoordig kan wees. Slegs 'n betreklike klein hoeveelheid van dieselfde soort siekteveroorsakende organismes kan egter deur die lippe van 'n draer op die rand van die beker agtergelaat word. Verder is daar nie genoeg tyd vir vermenigvuldiging nie. Hierby moet in ag geneem word dat nie alleen die wyn nie, maar ook die metaal van die beker geensins bevorderlike media vir vermenigvuldiging van organismes is nie. Dit is ook baie onwaarskynlik dat 'n tweede nagmaalsgebruiker die volle hoeveelheid organismes wat 'n siektedraer op die rand van die beker agtergelaat het, sal inneem. Daar kan eerder aanvaar word dat 'n aantal nagmaalsgebruikers elkeen deeltjies van dieselfde aansteeklike organismes, wat buitendien in 'n klein dosis op die rand van die beker agtergelaat is, sal kan inkry. Wat nou baie belangrik is om hierby in ag te neem, is dat enige siekteveroorsakende organismes die bepaalde siekte deur 'n minimum dosis veroorsaak. Daar moet dus 'n bepaalde hoeveelheid organismes ingeneem word om die siekte op te doen. Wat
in hierdie aangeleentheid ook van besondere belang is, is dat die minimum
infektiewe dosis deur die mond baie groter moet wees om 'n siekte oor te dra
as wat dit deur die vel, binnespiers of binne-aars is. Voortdurend blootgestel
So
bevind mense hulle dikwels in 'n geslote ruimte, soos 'n bioskoop of 'n
teater, terwyl daar talle persone met infeksies, in 'n mindere of meerdere
mate, van die lugweë, keelholtes, of longe in die gehoor teenwoordig is.
Daar word soms gekug, genies of gehoes en heelwat fyn druppeltjies wat
organismes bevat, word oor 'n aansienlike ruimte versprei. Maar daar breek
geen epidemie uit nie. Trouens, na alle waarskynlikheid word niemand siek
nie! 'n
Derde voorbeeld: Jy is opreis en jy moet van 'n toilet langs die pad êrens
gebruik maak. Die toilet is dalk nie sindelik nie, dis dalk selfs opsigtelik
vuil, maar jy het op daardie stadium geen keuse nie... en tog doen jy nie
gonorree op nie! 'n
Vierde voorbeeld: Ons almal hanteer bykans elke dag geld. Vir 'n
wetenskaplike is dit kinderspeletjies om aan te toon hoeveel organismes daar
op papiergeld floreer! Veral of die papiergeld wat dikwels uit 'n sweterige
broeksak met 'n vuil hand opgediep word. En wie van ons ontsmet ons hand
elke keer nadat ons papiergeld gehanteer het? Tog breek daar nie epidemies
uit vanweë die hantering van papiergeld nie! Weer eens, ons word nie eens
siek daarvan nie! Al
hierdie daaglikse voorbeelde toon aan dat 'n mens voortdurend met
siekteveroorsakende organismes te doen kry. Gewoonlik is die dosisse van
dieselfde siekteveroorsakende organisme te klein om die siektes te kan
versprei, veral waar dit deur die mond ingeneem word. 'n Infektiewe dosis
veronderstel die inname van 'n minimum konsentrasie van die
siekteveroorsakende organisme deur die mond. Teoreties, in
laboratoriumtoestande, kan 'n enkele organisme sekere siektes laat posvat.
Maar prakties is daar 'n minimum infektiewe dosis nodig om 'n siekte, veral
deur die mond, te laat posvat. Die rede hiervoor is die wonderbaarlike wyse
waarop die Here 'n aantal verdedigingsmeganismes in die mens ingeskape het.
Onder hierdie verdedigingsmeganismes tel die mens se natuurlike
immuniteit, 'n ingewikkelde en omvattende aspek waarop nie nou hier ingegaan
kan word nie. Die
nagmaalsbeker aansteeklik?Die
vraag of die nagmaalsbeker nie 'n bron van aansteeklikheid van besmetlike
siektes is nie, kom in ons tyd sterker na vore. Dit gaan hierby veral oor
Vigs as 'n “nuwe” siekte. Die ontstaan daarvan kan herlei word na 'n
mutasie ('n genetiese vervorming) van ‘n bestaande organisme. Maar selfs
die mutasie van 'n organisme is geen toevalligheid nie. Ook 'n gemuteerde
organisme (wat baie, baie kleiner as 'n haar van jou kop is) kan nie buite
God se beskikking ontstaan nie. Hierdie bepaalde gemuteerde organisme, wat
as 'n gevolg van onsedelike handelinge van die mens na vore tree, kan nooit
losgemaak word van die Bybelse uitsprake oor sulke handelinge wat vir God
‘n gruwel is nie (kyk Rom 1:21-28, veral die laaste deel van vers 27). Vigs
is 'n siekte wat uit homoseksuele verkeer tussen mans ontstaan het. Dit het
verder versprei deur dwelmverslaafdes wat dwelmmiddels met ongesteriliseerde
spuitnaalde binne-aars toedien, mense wat bloedoortappings ontvang het en
besmette vroue wat kinders in die wêreld bring. Dit kring teenswoordig
steeds verder uit, ook deur die losbandige heteroseksuele verhoudings van
vroue wat met besmette mans geslagsgemeenskap beoefen. Daar is wel al spore
van die siekte in speeksel en trane gevind maar daar is nog geen
wetenskaplike bewys gelewer dat die siekte mondelings deur speeksel of trane
oorgedra kan word nie. Daar is egter onomwonde wetenskaplike bewyse dat dit
'n besmetlike siekte is wat deur bloed oorgedra word. Die siekte word deur
herhaalde intieme geslagsverkeer, waar soms 'n baie klein gedeelte van die
weefsels beskadig word, of die direkte aanraking met die bloed van 'n
besmette persoon, oorgedra. Die indirekte kontak wat tussen die lippe van
mense in die gebruik van die nagmaalsbeker voorkom, kan geen moontlike rol
speel nie. Eweso
is hepatitis B (geelsug) 'n siekte waarin die veroorsakende virus in die
bloed voorkom. Dit word deur middel van klein hoeveelhede bloed, soos met
die gebruik van besmette inspuitnaalde of deur die byt van bloedsuiende
insekte soos muskiete of wandluise oorgedra. 'n Persoon met 'n besmetting
van hepatitis A virus is so siek dat hy onder kwarantyn geplaas word. Dit is
dus onwaarskynlik dat hy aan die nagmaalstafel sal verskyn. Daar
bestaan ook geen epidemiologiese gegewens, asook selfs waarnemings uit die
ervaringswêreld van 'n gemeente dusver, wat daarop dui dat enige
oordraagbare siekte nog ooit sy oorsprong in die gebruik van 'n
gemeenskaplike nagmaalsbeker gehad het nie! Dit is so ten spyte van die
gebruik in baie kerke oor baie eeue. Uit
die higiëniese beoordeling van die feite dusver tot ons beskikking, blyk
dus dat die gemeenskaplike beker tot op hede nie 'n bron van besmetlikheid
van aansteeklike siektes was nie. Dit blyk trouens menslik gesproke dat
besmetting deur die beker hoogstens 'n baie teoretiese moontlikheid is. Die
wesenlike punt - gehoorsaamheid Maar
met hierdie beoordeling op wetenskaplike gronde kom ons terug op die
wesenlike punt waarom dit gaan: Sal God 'n valstrik vir sy kinders stel,
deur aan hulle 'n sakrament te gee waarin hulle moet deel, maar waardeur
hulle in verskriklike ellendes kan beland? Natuurlik sal God sy kerk in die
gerig bring - as die kerk ook in die gruwelike onsedelike praktyke van die wêreld
verval het. En dié oordeel sal geeneen ontsnap nie, hoe hy ook al die
gemeenskaplike nagmaalsbeker vermy. As
'n wetenskaplike het ek deur die loop van baie jare agter baie mikroskope
baie onder die indruk van die orde en die planmatigheid van God se skepping
gekom. Dit geld juis in die wonderwêreld van die mikrokosmos. Daarom is dit
vir my onmoontlik om te glo dat Hy die sakrament, waarin die intieme
geloofseenheid tussen bruid en bruidegom sigbaar word, “ondeurdag” sou
instel. Kom maar met 'n geruste gemoed na die tafel om die brood te eet en
uit die beker te drink. Wat vra die Here anders van ons as 'n gehoorsame en
'n gelowige hart?
Aangehegte
verslag soos vervat in Die Handelinge van die ses-en-veertigste Nasionale
Sinode: 8.
HIGIëNIESE VERSLAG (GEPUBLISEERDE
BYLAE) 8.1.
Opdrag 8.1.1
Die Acta van die Sinode 1994:524, 3.2.4 maak slegs van 'n Liturgiese studie
melding. Maar daar moet op gewys word dat die Notule wat tydens die Sinode
1994 goedgekeur is, melding maak van ‘n grondige Liturgiese
en Higiëniese studie.
Daarom word hierdie higiëniese studie as deel van die werk van die
Deputate aan die Sinode voorgelê. 8.1.2
Uitgangspunt van die Deputate was dat alle oorwegings afhanklik is van die
uitsprake in die Skrif (dus: Skriftuurlikeksegeties). 8.1.3
Higiëniese gegewens kan hoogstens vir kennisname wees, aangesien mediese
gegewens nie beginsels wat deur God gestel word, kan of mag oorheers nie. Hierdie
Rapport is beperk tot die higiëniese aspekte rondom die gebruik van die
Nagmaalsbeker. Die vraag rondom die moontlikheid dat die HIV of MIV
("Menslike Immuniteit-virus") deur die gemeenskaplike gebruik van
die Nagmaalsbeker oorgedra kan word, word breedvoerig bespreek. Verskeie
bronne dui aan dat dit onwaarskynlik is dat die HIV deur die gebruik van
gesamentlike Nagmaalsbekers oorgedra kan word. 8.2
Die moontlike oordraagbaarheid van die HIV met die gebruik van die
nagmaalsbeker tydens die viering van die heilige Nagmaal. 8.2.1
Die Verworwe
Immuniteitsgebreksindroom In
die vroeë jare van die vorige dekade het die mediese wêreld bewus geword
van 'n totaal nuwe siektetoestand wat hoofsaaklik in homoseksuele persone en
dwelmverslaafdes voorgekom het. Dit het ook vinnig aan die lig gekom dat 'n
virus betrokke was, aangesien die toestand oordraagbaar is deur middel van
bloedoortappings in hemofiliese pasiënte. Montagnier
van die Pasteur Instituut het die virus na 'n intense soektog geïsoleer en
gekweek. Teen 1990 het die Wêreld Gesondheidsorganisasie die sindroom reeds
in 100 lande oor die wêreld gerapporteer. Dit het duidelik geword dat
heteroseksuele oordraging van die virus homoseksuele verspreiding daarvan
ver oorskadu. Gedurende 1994 is beraam dat sowat 10% van die bevolking van
Afrika suid van die Sahara geïnfekteer is.
Enkele bepalings uitgevoer in Botswana en KwaZulu dui aan dat ook
hier reeds 10% van die plaaslike bevolking reeds besmet is. Voorlopige
studies gedurende 1994 by Johannesburgse hospitale beraam dat sowat 1 uit
elke 5 pasiënte wat daagliks by hospitale aanmeld, reeds aan hierdie
ongeneeslike siekte ly (Sunday Times, 7 Augustus 1994). Na
besmetting neem dit 3 tot 17 weke voordat die pasiënt antiliggame teen die
virus vervaardig (baie gevalle egter nog langer). Wanneer antiliggame teen
die virus verskyn, word daar verwys na as
“sero-conversion". Die periode van latensie word die "vensterperiode"
genoem en tydens hierdie latente periode kan 'n pasiënt dus vals negatief
getoets word. Die goedkoper "Elizatoets”-metode word gedurigdeur
gebruik om die aantal besmette pasiënte in die steekproewe te evalueer.
Hierdie toets kan slegs 'n positiewe resultaat gee indien 'n besmette
persoon serokonversie ondergaan het, en voor dit geskied, is die toets vals
negatief (al is die virus teenwoordig). Die veel duurder en gekompliseerde
"PCR"-toetsing word nie toegepas in steekproefberaming nie (vanweë
die koste daaraan verbonde), hoewel die metode die virus net na besmetting
kan opspoor. Hieruit kan 'n mens dus aflei dat die persentasie van geïnfekteerdes
hoër is as wat eintlik beraam word. Die
virus kruis ook oor die plasenta en geïnfekteerde moeders sal dus geboorte
skenk aan besmette babas. Die virus word ook uitgeskei deur moedersmelk wat
dus ook dien as transportmedium vir besmetting.
Daar is verskeie seltipes in die liggaam wat as primêre teiken vir
die virus dien, nl. die witbloedselle, breinselle, selle wat bloedvate
belyn, en sg. "dendritiese selle van
Langerhans”. Ter inligting sal daar in kort na die rol van die
belangrikste teikenselle en besmetting verwys word. 8.2.1.1
Witbloedselle Daar
is 5 tipes witselle waarvan die limfosiet-subtipe as die hoofteiken van
virusaanval dien. Limfosiete word verder in T- en B-tipes onderverdeel en
die T-limfosiete weereens in vier groepe. Die sg. "helper-T-limfosiet"
is die sel wat verantwoordelik is vir immuniteittsreaksies – dit beweeg in
die bloedstroom op soek na vreemde indringers (virusse, bakterieë, swamme
en selfs molekules waarvoor die persoon allergies is). Dit is ook die
helper-T-sel wat dan met die HIV in kontak kom wanneer die virus direk
in die bloedstroom geplant word soos gesien met bloedoortappings en
intraveneuse dwelmmisbruik (waarby
besmette naalde gebruik word).
Die helper-T-selle het sekere molekules op die seloppervlak waaraan
die virus bind en hierdie molekule word die "CD4-Reseptor" genoem. Wanneer
binding plaasgevind het, word die virus deur die helper-T-sel "geprosesseer".
Dan word die HIV in die helper-T-sel se genetiese materiaal (geleë in die
kern) ingebou. Die T-sel is op sy beurt geaktiveer en sal dan die
B-limfosiete stimuleer om antiliggame teen die virus te produseer.
Die tydperk wat verloop tussen helper T-sel infeksie en B-sel
stimulasie word (soos reeds vermeld) die latente periode genoem. Die
anti-liggame wat deur die B-selle vervaardig is, verskyn in die bloedstroom
en is eintlik oneffektief aangesien die virusse buite die antiliggame se
bereik in die helper-T-sel se kerne weggestoor is. Die rede waarom die
PCR-toetsmetode meer effektief is om die virus tydens vroeë infeksie te kan
identifiseer, is dat helper-T-selle van 'n bloedmonster meganies oopgebreek
word, waardeur die genetiese materiaal met virus en al blootgestel word aan
'n spesiale merker molekule wat in staat is om die virus aan te dui.
Anti-liggame teen die virus verdwyn mettertyd, en die virus programmeer dan
die helper-T-sel en besmet daarna nuwe helper-T-selle. In die proses word
die eerste helper-T-selle beseer deurdat die meeste bars en sodoende is daar
'n vermindering van helper-T-selle met gepaardgaande verlies van
immuniteitsresponse. Die persoon word dus vatbaar vir enige denkbare
infeksies van buite af en selfs vir die opflikkering van inherente latente
infeksies soos tuberkulose. 8.2.1.2
Dendritiese
selle van Langerhans Soos
die naam aandui, het die dendritiese selle takkies of uitsteeksels op die
oppervlak; hulle kom voor in die vel en slymvliese, wat die hele
respiratoriese stelsel (neus, keel, longe) spysverteringstelsel (mond tot
rektum) en urogenitale weë, belyn. Hierdie selle is dus in noue kontak met
die buitewêreld; en - net soos in die geval met helper-T-selle is hulle
gemoeid om vreemde indringers te identifiseer. Dit is hierdie sel wat ook
verantwoordelik is vir o.a. opname van die verkoue- en griepvirus,
hondsdolheidvirus hepatitis en poliovirus.
Dendritiese selle besit ook dieselfde CD4-Reseptor waaraan die
gemelde virusse bind. Na binding beweeg die dendritiese sel weg van die
slymvlies af na die limfstroom en beland uiteindelik in die bloedstroom of
limfnode waar dit met helper-T-selle in kontak kom. Tydens hierdie fisiese
kontak dra die dendritiese sel die virus oor aan die helper T-sel, wat weer
op sy beurt die B-selle stimuleer om antiliggame te produseer teen die
indringers. Die
volgende twee vrae kom na vore indien daar na die HIV gekyk word: (i)
Is die dendritiese sel in staat om 'n HIV te kan vang (dus kan die
HIV die bloedstroom indirek bereik vanaf die eksterne omgewing)? (ii)
Is dit moontlik dat die HIV vanaf 'n
besmette persoon oorgedra kan word na 'n ander deur speeksel? Bogenoemde twee vrae sal in die lig van navorsing, reeds gedoen oor 'n tydperk van agt jaar, beantwoord word. 8.2.1.3
Kan
dendritiese selle die HIV opneem? Hierdie
selle, soos genoem, kom voor in vel, oogslymvlies en ander slymvliese wat
die mond en geslagstelsels belyn. Hulle primêre funksie is om vreemde
molekules (virusse, ens.) te vang. Dendritiese selle besit CD4-Reseptore en
(soos vermeld) is dit die bindingsareas vir virusse (soos bv. die HIV). Na binding aan 'n virus beweeg die dendritiese sel na die
limfnodes waar oordraging aan helper-T-selle geskied. Dit is ook reeds
bevind dat daar tydens die VIG-sindroom 'n afname is in die aantal
dendritiese selle in die slymvlies van die mond, blykbaar te wyte aan
fisiese skade berokken aan hierdie selle nadat die HIV opgeneem is. Dendritiese
selle speel blykbaar die primêre rol in virale oordraging gedurende
seksuele aktiwiteit. (Verwysing:
Haseltine 1991 - Virus may thrive in lining of sex organs. New
scientist, 29 June.) Die volgende is 'n aanhaling uit hierdie verwysing:
"Cells in the linings of the sex organs can harbour HIV and allow it to
replicate rapidly. Many
scientists believed until now that blood must be present - even in very
small quantifies - for HIV to be transmitted. The new findings suggest they
were wrong. Langhoff, Haseltine and others carried out laboratory studies on
dendritic cells, found on all mucous membranes the body's front line of
defence against the outside world. To their surprise, Langhoff and his colleagues found that HIV grew much faster in immature dendritic cells than in cells known to be its usual targets, namely the CD4-lymphocytes. The team also found that low concentrations of the virus were needed to infect the dendritic cells. Haseltine's team said that, as dendritic cells are present in the mucous membranes of the mouth as well as those of the vagina and rectum, there is a theoretical possibility of spreading HIV by saliva". 8.2.1.4
Kan HIV in
speeksel voorkom? Dit
is bekend dat persone met VIGS ernstige tandvleisontsteking ondervind wat
gepaard gaan met matige bloedings. Bloed vanaf tandvleis letsels kan dus in die speeksel voorkom.
Ulserasies van die mondslymvlies kom oor die algemeen voor in hierdie
pasiënte en dien ook as deurgangspunt vir rooi- en witbloedselle.
Die speekselkliere van HIV-besmette persone toon dikwels ontsteking
en biopsies van hierdie kliere toon altyd 'n digte versameling van
limfosiete, sommige waarvan in die speeksel afgeskei word.
Uit die vorige punte is dit dus duidelik dat witbloedselle (en
spesifiek ook T-limfosiete) in die speeksel kan voorkom, soos wat ook die
geval is by melk- en geslagsafskeidings. Die
teenwoordigheid van die HIV is ook deur elektronmikroskopie in
speekselklierweefsel gevind deur Lecatsus en sy medewerkers. Hulle voel dat
speeksel 'n moontlike roete is vir oordraging van die HIV aangesien daar 'n
klein persentasie besmette persone voorkom wat aan geen bekende
risiko-faktore blootgestel was nie. Die HIV is daarenteen ook so vroeg as
1984 deur Groopman en medewerkers deur elektronmikroskopiese studies direk
in ‘n speekselmonster gevind. Hierdie outeurs publiseer dan ook 'n foto
van 'n HIV wat geleë is op die oppervlak van ‘n limfosiet wat in die
speekselmonster voorgekom het. Dit wil voorkom of daar 'n anti-HIV faktor in
speeksel natuurlik voorkom. Verskeie
studies is gedoen waar liggaamselle kunsmatig gekweek, dan met die HIV
besmet en vervolgens met speeksel geïnkubeer word.
Hierdie anti-HIV eienskap, van speeksel is blykbaar beperk en net in
staat om 'n sekere aantal HIV te kan teengaan. Nieteenstaande die
moontlikheid van die bestaan van inhibitoriese eienskappe wat speeksel op
die HIV mag uitoefen, word daar wel van die teenwoordigheid van die virus 'n
speeksel gerapporteer. Enkele studies sal dit illustreer in die studie van
Lucht et al, is speekselmonsters van 59 HIV-positiewe pasiënte getoets vir
die teenwoordigheid van HIV: in 9 gevalle (15%) is die virus wel in die
speeksel gevind. Rickman
et al. vind ook HIV in speeksel en hulle voel dat die virus via mensbyte
oordraagbaar is. Yeung et al. ondersoek speekselmonsters van 80 besmette
persone en kon HIV in 16 van die gevalle isoleer. Yeh et al. het die
speekselklier en speeksel van ‘n VIGS-lyer ondersoek en die virus in beide
gevind. ‘n Biopsie van die speekselklier het groot hoeveelhede van die
virus opgelewer. Die teenwoordigheid van HIV in speeksel en speekselkliere
is ook gedokumenteer deur Fox, alhoewel hy vind dat die konsentrasie van die
virus in die speeksel skynbaar laag is en dat die HIV nie in alle gevalle
teenwoordig was nie. Volgens
Haseltine speel viruskonsentrasie (dus
hoeveelheid betrokke) nie ‘n rol in oordraging nie aangesien ‘n baie lae
konsentrasie besmetting in sy proewe kon veroorsaak. Nog
vele artikels is geskryf wat die teenwoordigheid van HIV in speeksel noteer,
maar met bg. notasies word volstaan ter stawing van die felt dat,
nieteenstaande die teenwoordigheid van anti-HIV faktore, die virus tog in
speeksel aangetoon is. Ter
opsomming kan die volgende punte kortliks uitgelig word:
8.3
Evaluering Wyn
vir Nagmaal bevat ongeveer 12 persent alkohol sowel as ander stowwe soos
tannien, in genoegsame konsentrasie om oor die lang tyd wat wyn opgeberg
word, enige kiem of virus te vernietig. Wyn vir Nagmaal is dus aan die begin
vry van siekteveroorsakende organismes en 'n baie ongunstige medium vir die
voortbestaan en oordraging van enige sulke organismes (Brondokument 1). Die
oorsake van Vigs kom in die bloed voor, dit wil sê: dit is 'n
bloedgedraagde, besmetlike siekte. Dit kom voor by homoseksuele en
heteroseksuele mans en vrouens, dwelmverslaafdes, mense wat besmette bloed
ontvang het, kinders gebore uit besmette moeders en die vroue van mans wat
met die virus besmet is. Alle mans en vrouens wat met die HIV besmet is,
versprei die virus na almal wat met hulle intieme geslagsverkeer het. Dit
is reeds bo alle redelike twyfel vasgestel dat Vigs alleen deur herhaalde
intieme geslagsverkeer, of deur die aanraking met bloed van 'n besmette
persoon, oorgedra kan word en dat die indirekte kontak wat bestaan tussen
die lippe van mense in die gebruik van die Nagmaalsbeker, geen moontlike rol
kan speel nie (Brondokument 1). Die
aksie van wyn-drink uit die beker is vanuit die beker na buite. Enige
besmetting van die beker sal dus kom van die lippe van die Nagmaalsganger en
sal deur momentele aanraking op die rand van die beker gedeponeer word. Dit
impliseer dat die dosis van enige besmetlike organisms wat op die rand van
die beker agterbly, klein is omdat beide die wyn en die metaal van die beker
nie 'n geskikte medium vir vermenigvuldiging van siekteveroorsakende
organismes is nie. Verder
is daar ook nie genoeg tyd vir vermenigvuldiging nie. As ‘n tweede
Nagmaalsganger op presies dieselfde plek as die eerste drink, verwyder die
momentele aanraking van sy lippe van die besmetting, maar nie alles nie. As
'n derde persoon die beker op presies dieselfde plek gebruik, kan hy ook net
'n baie lae dosis van die siekteveroorsakende organisme inneem. Die grootste
waarskynlikheid is dat die dosis van die organisme wat ingekry is, te klein
is om enige siekte te veroorsaak. Enige siekteveroorsakende organisme het 'n
minimum-infektiewe dosis, en die minimum-infektiewe dosis deur die mond is
hordes groter as deur die vel, binnespiers of binne-aars. Daar
bestaan in die praktyk talle voorbeelde waarby mense aan sub-infektiewe
dosisse van organismes blootgestel word sonder enige gevolge. Mense gaan na
'n bioskoop of 'n teater sonder dat daar 'n uitbreek van siekte voorkom,
terwyl daar talle individue met infeksies van die lugweë, keelholtes of
longe in die gehoor in die geslote ruimte is. ‘n
Persoon met 'n besmetting van die neus, keelholte en longe blaas sy neus met
‘n sakdoek. Dit bring mee dat
daar van die besmetting op sy hande kom. Hy groet 'n tweede persoon met die
hand direk daarna en dra so van die besmetting oor op die hande van die
tweede persoon. Die tweede persoon raak aan sy mond of neus, maar raak nie
besmet nie omdat die dosis van organismes waarmee hy in aanraking gekom het,
te laag is. Hoeveel
besmetting is daar nie op geld, veral papiergeld nie? Mens doen nie gonorree
op deur die gebruik van ‘n publieke toilet nie. As
mens dus al die vorms van kontak met sub-infektiewe dosisse van
siekteveroorsakende organismes wil vermy, moet jy in absolute isolasie gaan
lewe. In
'n artikel getiteld "Aids SA HIV in Saliva (speeksel - Dep) What are the risks?" vind ons die volgende uitlating oor die
moontlike oordraging van die HIV in speeksel: "There have been a number
of observations and studies which indicate the total absence of salivary
transmission of HIV. For example, two prospective studies of individuals
bitten by HIV infected patients. In
one a haemophiliac who bit eight health care workers, in another, relatives
bitten by a HIV infected child and in a third, 30 health care workers bitten
or scratched by a violent Aids patient. In none of the bite recipients was
sero-conversion detected. In some 14 combined studies involving 750
individuals living in close and often intimate contact with family or
household members infected with HIV, none have sero-converted despite the
prolonged and repeated sharing of personal items such as combs, towels, nail
clippers, eating utensils, plates, drinking glasses and cups"
(Brondokument-2). Uit
bogenoemde is dit dus duidelik dat verskeie studies reeds gedoen is en dit
dui daarop dat die HIV nie deur speeksel tydens die gebruik van eetgerei en
glase oorgedra kan word nie. Die volgende word genoem: "No bacterial or
mycotic growth was seen in any of the three whole saliva/virus cultures,
including the non-filtered antibiotic anti-mycotic sample (Brondokument 3). ‘n
Paar van die siektes waaroor mense besorg is, kan in groter besonderhede
behandel word: 8.3.1
Oor
Hepatitis B Dit
is 'n siekte waarin die veroorsakende virus in die bloed voorkom.
Dit word oorgedra deur klein hoeveelhede bloed, bv. met die gebruik
van besmette inspuitnaalde of deur die byt van bloedsuiende insekte soos
muskiete of wandluise. 8.3.2
Oor Hepatitis A 'n
Persoon met 'n besmetting van hepatitis A-virus is 'n baie siek persoon
en word onder
kwarantyn geplaas.
Dit is dus onwaarskynlik dat by aan die Nagmaalstafel sal verskyn. 8.3.3
Oor Epidemiologie Daar
bestaan geen epidemiologiese gegewens wat daarop dui dat enige oordraagbare
siekte nog ooit sy oorsprong gehad het in die gebruik van 'n gemeenskaplike
Nagmaalsbeker nie. Dit is so
ten spyte van die gebruik in baie kerke oor baie eeue. 8.4
Teenargumente Daar
is verskeie argumente wat poog om te toon dat die HIV wel deur speeksel en
ander liggaamsvloeistowwe oorgedra kan word. Daar is onder andere in 1985
beweer dat die HIV nie so sensitief van aard is dat dit tot niet gaan
wanneer dit met lig-, lug- of temperatuurverskille in aanraking kom nie. Dit
sou beteken dat die virus moontlik ook op ander maniere as deur seksuele
kontak oorgedra kan word. Daar is egter tot op datum geen sodanige geval
wetenskaplik vasgestel nie (Brondokument 4). Dit
sou beteken dat die virus oorgedra kan word aan familielede, vriende,
mediese personeel, ensovoorts, wat in aanraking sou wees met HIV-positiewe
en/of Vigsverwante pasiënte. Daar is selfs beweer dat die virus oorgedra
kan word ten spyte van mediese maskers en beskermende klere. 'n
Bewese felt is dat die virus wel geïsoleer kan word in saliva (speeksel),
hoes- en nies-partikels en ook in muskietspeeksel. In
'n verdere artikel getiteld "The battle over Aids: Disease control vs.
hysteria control" word die volgende op bladsy 22 beweer: "The Aids
virus, far from being fragile, is exceptionally hardy.
The Aids virus is unusually stable outside the human body. It retains
almost all its infectivity after seven days in water at room temperature and
some after being kept dry for a week" (Brondokument 5). Medies-wetenskaplike
feite en navorsing gedurende die laaste dekade het egter pertinent aangetoon
en bewys dat geen enkele geval van HIV oordraging op sodanige manier
plaasgevind het nie. Dit is egter irrelevant of die virus wel weerstandig of
sensitief is en of die virus buite die liggaam kan oorleef. Ook of die virus
in ander liggaamsvloeistowwe geïsoleer kan word. Daar
moet deurentyd in gedagte gehou word dat die Nagmaalsbeker en die wyn
geensins gunstige mediums vir die oordra van enige virus is nie.
Daarbenewens is daar tot op datum geen gevalle geïdentifiseer waar die
virus op maniere (soos genoem in relevante paragrawe) oorgedra is nie. 8.5
Gevolgtrekking Daar bestaan onteenseglike wetenskaplik-gefundeerde bewys dat die oordraagbaarheid van die HIV alleenlik teweeggebring word op die volgende primêre wyses, naamlik:
Alternatiewe
metodes van oordraging, insluitende noue persoonlike kontak (nie-seksueel),
insekte, omgewingsbronne asook statiese voorwerpe soos wasbakke, toilette en
onder andere eetgerei is hoogs onwaarskynlik. In veertien wêreldwye
epidermiologiese (vel-) studies is geen enkele geval van nie-seksuele,
nie-veldeurdringende oordraging geïdentifiseer nie. Die wetenskaplike
waarskynlikheids-bepaling van oordraging van ander metodes behalwe
eersgenoemde drie is nul (Brondokument 6). Bogenoemde
staaf die inleidende argument dat daar geen wyse is waarop die HIV deur die
gebruik van die Nagmaalsbeker oorgedra kan word nie. 8.6
Opsommend kan die volgende gestel
word: 1.
Bogenoemde uittreksels uit wetenskaplike navorsingsartikels versterk die
vermoede dat daar geen wyse is waarop die HIV deur die gebruik van die
Nagmaalsbeker oorgedra kan word nie. 2.
Hoewel HIV ook in speeksel voorkom, is hulle voorkoms in bloed baie groter.
Daar is geen deurslaggewende getuienis dat die HIV deur speeksel
oorgedra kan word nie. 3.
Besmetting met die HIV virus kan plaasvind deur seksuele kontak, besmette
bloed of bloedprodukte van moeder na kind. Daar bestaan belangrike getuienis
dat die oordrag van die HIV alleen kan plaasvind deur seksuele kontakte,
wanneer die vel deurdring word, en deur 'n besmette moeder op haar kind. 4.
Daar bestaan wel ‘n risiko dat ‘n min of meer ernstige
virussiekte deur die Nagmaalsbeker oorgedra kan word, hoewel die
moontlikheid hiervan uiters skraal is. Volgens mondelinge getuienis van
navorsers by die Nasionale Instituut vir Virologie blyk dit dat swaarmetale
(bv. goud, silwer en vlekvrye staal) waaruit Nagmaalsbekers gemaak word -
virusse feitlik onmiddellik uitwis. Daarby is virusse nie bestand teen
alkohol (wat in die wyn voorkom) nie. 5.
Dit is duidelik dat die indirekte kontak wat bestaan tussen die lippe van
mense by die gebruik by die Nagmaalsbeker geen moontlike rol kan speel in
die oordrag van Vigs nie. Besmetting deur die Nagmaalsbeker is hoogstens
‘n baie geringe teoretiese moontlikheid. 8.6
Aanbeveling Die getuienis aangaande die moontlikheid van enige besmetting van siektes deur die Nagmaalsbeker is uiters skraal. Die Sinode neem die vrese vir virusbesmetting deur middel van die gebruik van die Nagmaalsbeker nie in oorweging by die vasstelling van beginsels wat deur God in sy Woord vasgelê is nie. In
die lig van bogenoemde verslae en aangesien dit wetenskaplik bewys is dat
die moontlikheid van enige besmetting van siektes deur die Nagmaalsbeker
heel onwaarskynlik is en ook aangesien daar tot dusver geen feite tot ons
beskikking is dat die gemeenskaplike Nagmaalsbeker 'n bron van besmetlikheid
van aansteeklike siektes was nie, beveel hierdie kommissie aan dat die
gemeenskaplike Nagmaalsbeker behou moet word.
|