Verslag oor die
gevaar van besmetting en
Opdrag: Om die
gevaar van besmetting en aansteeklike siektes tydens Nagmaalsviering te
ondersoek. Hoe ontstaan siektes? Parasiete, bakterieë en virusse, wat biologiese faktore
is, kan siektes veroorsaak. Sekere organismes wat siektes kan veroorsaak, kan
met die blote oog gesien word, bv. wurms en insekte. Mikroörganismes wat so
klein is dat 'n mens dit slegs met 'n mikroskoop kan sien, soos eensellige
diere (protosoa, swamme, bakterieë en virusse) kan ook siektes veroorsaak. Protosoa
Eensellige diertjies kan ook siektes veroorsaak,
byvoorbeeld die amebe wat 'n vorm van buikloop veroorsaak. Swamme
Verskillende soorte mikroskopiese klein swamme (skimmels) kom op die vel en in die slymvliese voor en veroorsaak meestal geen siektes nie. Die klein mikroöganismes leef in ewewig met ander organismes, soos bakterieë. Wanneer die omgewing egter versteur word, deur byvoorbeeld antibiotiese behandeling of wanneer die normale weerstandsvermoë van die liggaam teen siektes swakker word, kan die skimmel skielike afwykings veroorsaak. Baie velsiektes word deur skimmels veroorsaak. In die mondholtes van kinders veroorsaak die skimmels sproei, wat as klein wit kolletjies op die slymvlies waargeneem kan word. Bakterieë
Bakterieë is klein eensellige organismes wat goed
ontwikkel is om stowwe af te skei. Bakterieë vermenigvuldig vinnig en baie
soorte bakterieë kan vinnig beweeg. Baie bakterieë doen die mens geen kwaad
nie en word gebruik deur, en is selfs onmisbaar vir die bestaan van mense en
diere. Bakterieë word meestal op die vel en slymvliese aangetref. Net soos
skimmels, kan bakterieë siektes veroorsaak wanneer daar versteurings in die omgewing
is of wanneer die liggaam se weerstandsvermoë verminder. Bakterieë wat
siektes veroorsaak, word patogene genoem. Deur 'n verandering in die
genetiese samestelling kan 'n onskuldige bakteriestam in 'n stam verander wat
siektes veroorsaak. Die weerstand van bakterieë teen antibiotika kan ook
verander sodat eens gevoelige bakterieë skielik 'n weerstand teen die
antibiotiese middel ontwikkel. Bakterieë veroorsaak patalogiese veranderinge
in die organe; dit gebeur deurdat die weefsel afgebreek word of deurdat die
bakterieë gif, wat ons toksien noem, produseer wat op sy beurt ernstige
patalogiese veranderinge tot gevolg het, byvoorbeeld klem-in-die-kaak. Virusse Die kleinste van die mikroöganismes is die virus wat net uit
proteïenmolekule bestaan. In teenstelling met bakterieë en skimmels, kan
virusse slegs groei en vermenigvuldig in 'n lewende sel. Virusse wat siektes
veroorsaak, word gewoonlik in bepaalde liggaamsweefsels aangetref. Polio en
gordelroosvirusse vind self hul weg na byvoorbeeld die senustelsel. Die
virusse wat gewone verkoues veroorsaak, versprei meestal deur die slymvlies.
Bykans alle virusse wat siektes veroorsaak, is ongevoelig vir antibiotika. Verspreiding van infeksies
Bronne van infeksie
Stowwe
wat infeksie veroorsaak, word in die grond, in diere of in plante
aangetref. Besmettingsbronne kan die
bloed of die uitwerpsels van diere en mense wees en ook grond met kieme wat
byvoorbeeld aan groente en knolplante klou. Mense wat aansteeklike siektes
oordra (die sogenaamde draers) kan in 3 groepe ingedeel word: gesonde draers,
aansteeklike gevalle in die
inkubasieperiode (die tyd wat verloop van die infeksie tot die uitbreek van
siekte) en die siek draers. Hoe bly so 'n aansteeklike organisme
aan die lewe?
Die vermoë van aansteeklike
organismes om buite die menslike liggaam te bly lewe, wissel baie. Bepaalde
bakterieë soos stafilokokke en tuberkulosekieme kan 'n paar weke lank in 'n
verrottende toestand, op vuil oppervlakke en in stof bly lewe. Ander
bakterieë het 'n vogtige omgewing nodig om te kan voortbestaan. Masels, waterpokkies en griepvirusse
verloor vinnig hul vermoë om aan te steek as hulle eers buite die menslike
liggaam is, terwyl hepatitis (geelsug) sy vermoë om aan te steek in ‘n
gunstige omgewing, soos in bloed, uitwerpsels en water, lank kan behou. Maniere waarop infeksies versprei
word
Besmetting kan regstreeks deur 'n siek mens veroorsaak
word, of onregstreeks deur besmette voorwerpe, bv. hande en klere van diegene
wat siekes versorg. Voorbeelde van siektes wat hoofsaaklik deur regstreekse
kontak versprei word, is geslagsiektes. Besmetting via lug en stof vind plaas
wanneer die smetstof van die siekte, deur nies of hoes in die vorm van klein
druppeltjies 'n geruime tyd in die lug sweef, soos by tuberkulose. Die
smetstof kan ook in stof voorkom. Smetstof kan so deur lugstrome of
lugreëlingsgange oor groot afstande in 'n gebou vervoer word. Voedsel en
water is dikwels ook maniere waarop aansteeklike siektes soos bosluiskoors en
maagkoors versprei kan word. Deur sorgvuldige kontrole van voedsel kan die
siektes aansienlik beperk word. Voedselvergiftiging wat veroorsaak word deur
bakterieë wat toksiene in voedselsoorte afskei wat nie goed bewaar word nie,
kom dikwels voor. Sekere soorte lewerontsteking (hepatitis) en polio behoort
tot die siektes wat deur water versprei word. Besmetting via water vind
meestal deur drinkwater plaas, maar sekere siektes kan ook deur badwater
versprei word. Insekte kan ook infeksies versprei deur regstreekse kontak of
deur 'n steek of 'n byt. Vlieë kan byvoorbeeld smetstowwe op kos agterlaat.
In tropiese lande kom baie siektes voor waarin insekte 'n belangrike rol
speel. Die vatbaarheid van die individu
'n Infeksiesiekte kan ontstaan
wanneer 'n bepaalde hoeveelheid van die stof ingeneem word en die persoon
vatbaar daarvoor is of ‘n verlaagde weerstandsvermoë het. Siek en bejaarde
mense is baie vatbaar aangesien hulle weerstandsvermoë laag is. Seerplekkies
op die vel of in die slymvlies kan gepaard gaan met verminderde weerstand vir
infeksies. Die weerstandsvermoë kan
deur goeie voeding verhoog word. Infeksiesiektes
Lewerontsteking
(hepatitis) Die
hoeveelheid galkleurstof in die bloed neem tydens die aandoening toe omdat
die lewer dit nie meer kan verwerk nie. Daarom word die vel geel en van daar
die benaming geelsug. Oorsake
Daar is drie soorte lewerontsteking, wat almal deur 'n
virus veroorsaak word naamlik hepatitis
A, hepatitis B en hepatitis C. Hepatitis A bring soms hewige epidemies mee. Die infeksie
versprei via die bloed of water wat besmet is deur die ontlasting van mense
wat die siekte het. Die inkubasietyd is van 2 tot 6 weke. Hepatitis A kan ook oorgedra word
deur eetgery of ‘n tandeborsel met ‘n hepatitis
A lyer te deel. Hepatitis A
genees gewoonlik binne ‘n maand. In die
geval van serumhepatitis of hepatitis B kan die infeksiestowwe
oorgedra word deur 'n bloedoortapping of inspuitnaalde wat met bloed besmet
is, byvoorbeeld deur iemand wat aan dwelmmiddels verslaaf is. Ook via die
bloedstroom uit swere of skrape op die vel van sportlui kan virale hepatitis
B versprei word. Dit kan ook deur seksuele of ander intieme kontak versprei
word. Hepatitis C word net deur bloed oorgedra en veral deur bloedoortappings.
Behandeling
Diegene wat baie siek is, word in ‘n
hospitaal opgeneem. Dit is egter nie noodsaaklik om die voltyds in die bed te
bly nie. Diegene wat nie in 'n hospitaal opgeneem hoef te word nie, kry geen
spesiale behandeling, buiten rus, nie. Die verloop van die siekte verskil ook
baie, maar meestal kan dit binne 3 maande genees. Die afgelope tyd bestaan
daar ook 'n inentstof teen hepatitis B. Aangesien die infeksie in die geval
van hepatitis B via die bloed oorgedra word, moet jy veral versigtig wees met
sweertjies en skrapies. Tuberkulose
'n Volgehoue immunisasieveldtog het
die voorkoms van tuberkulose drasties in Suid-Afrika verminder. Met sekere
tye styg die voorkomssyfer egter weer kwaai en is hernieude maatreëls en
voorligting nodig. Swak behuising, ondervoeding, probleme om aansteeklike
gevalle op te spoor en versuim van pasiënte om met behandeling voort te gaan,
is die vernaamste bondgenote van tuberkulose. Oorsake
Tuberkulose is 'n chroniese ontsteking
wat veroorsaak word deur die tuberkelbasil. Die infeksie word, of in klein
druppeltjies of stof, via die lug versprei as gevolg van hoesery van diegene
wat aan die siekte ly. Verloop van die siekte
Weefselreaksies ontstaan in die
longe indien die besmette persoon se weerstand verminder het. Die proses duur
meestal 4 tot 6 weke nadat iemand die siekte aangesteek het. Klein knoppies
ontstaan op die plekke waar die bakterieë gevestig het. (Die siekte kry sy
naam van die Latynse woord vir knoppie, tuberculum.) Die nabygeleë limfkliere
word ook aangetas. Die primêre ontsteking verdwyn weer meestal sonder dat
simptome voorkom. Die bakterieë kan intussen via die bloed na ander
liggaamsorgane versprei. Dit kan tydens die primêre infeksie plaas vind of etlike
jare na die infeksie. Longtuberkulose
Simptome Wanneer die bakterieë van die
primêre plek van infeksie in die longe versprei, ontstaan simptome van
longontsteking, bv. hoesbuie en steke in die bors. Dit duur lank en in die
algemeen kom simptome soos moegheid, nagtelike sweet, koors en gewigsverlies
voor. Bloed in die sputum (hoesslym) is 'n ernstige simptoom. Deur die
afbreking van die longweefsel kan 'n holte ontstaan waar die bakterieë hulle
kan vestig. Die slym is in sulke gevalle hoogs aansteeklik. Voorkomingsmaatreëls
Voedsame kos in voldoende
hoeveelhede is van wesenlike belang as 'n mens weerstand teen tuberkulose wil
ontwikkel. Immunisasie is die vernaamste voorsorg teen hierdie siekte.
Verslag van Prof. Dr. B. C. Jansen soos gepubliseer in Die Kerkblad 4
April 1990 Die Beker en siektes
'n Valstrik vir gelowiges in die nagmaal? Is die gemeenskaplike nagmaalsbeker nie 'n bron van
aansteeklikheid van besmetlike siektes nie? Hierdie vraag het vir baie
gelowiges 'n kwelling geword, veral vanweë die stroom berigte oor die
gevreesde Vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) waardeur ons deur die
daaglikse media oorspoel word. Die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand het in
1986 'n wetenskaplike ondersoek oor die aangeleentheid onderneem. Op versoek
van Klassis Suidelike Pretoria het hierdie artikel in Die Kerkblad van 17 Desember 1986 verskyn. Deur dringende
versoeke van lesers plaas ons hierdie artikel weer eens. Die saak is nou nog
meer aktueel. Prof. dr. Jansen was (hy is intussen oorlede) een van die
grootste outoriteite (natuurwetenskaplike en medikus) op hierdie gebied.
Daarby was hy 'n innige gelowige Christen en kerkman. Twaalf persent alkohol
Nagmaalwyn bevat ongeveer twaalf persent alkohol sowel as ander
stowwe, soos tannien. Hierdie stowwe kom in genoegsame konsentrasie voor om
oor die lang periode wat wyn opgeberg word, enige kiem of virus te vernietig.
Daar kan dus uitgegaan word van die feit dat die nagmaalwyn self vry is van
enige siekteveroorsakende organismes. Trouens, die nagmaalwyn is 'n baie
ongunstige medium vir die voortbestaan of oordraging van enige
siekteveroorsakende organismes wat ook van buite af daarby gevoeg sou word. Daar moet egter aanvaar word dat siekteveroorsakende
organismes deur die lippe van 'n draer daarvan op die rand van die beker
agtergelaat kan word. Enige wetenskaplike sal deur kultuurkweking kan aantoon
hoeveel verskillende organismes daar in werklikheid op die rand van die beker
na 'n nagmaalsronde teenwoordig kan wees. Slegs 'n betreklike klein hoeveelheid van dieselfde soort siekteveroorsakende organismes kan egter deur die lippe van 'n draer op die rand van die beker agtergelaat word. Verder is daar nie genoeg tyd vir vermenigvuldiging nie. Hierby moet in ag geneem word dat nie alleen die wyn nie, maar ook die metaal van die beker geensins bevorderlike media vir vermenigvuldiging van organismes is nie. Dit is ook baie onwaarskynlik dat 'n tweede nagmaalsgebruiker die volle hoeveelheid organismes wat 'n siektedraer op die rand van die beker agtergelaat het, sal inneem. Daar kan eerder aanvaar word dat 'n aantal nagmaalsgebruikers elkeen deeltjies van dieselfde aansteeklike organismes, wat buitendien in 'n klein dosis op die rand van die beker agtergelaat is, sal kan inkry. Wat nou baie belangrik is om hierby in ag te neem, is dat enige siekteveroorsakende organismes die bepaalde siekte deur 'n minimum dosis veroorsaak. Daar moet dus 'n bepaalde hoeveelheid organismes ingeneem word om die siekte op te doen. Wat in hierdie aangeleentheid ook van besondere belang is,
is dat die minimum infektiewe dosis deur die mond baie groter moet wees om 'n
siekte oor te dra as wat dit deur die vel, binnespiers of binne-aars is. Voortdurend blootgestel
In ons
daaglikse lewenspraktyk word elke mens bykans voortdurend aan dosisse
siekteveroorsakende organismes blootgestel. Maar sonder dat ons voortdurend
aan een of ander siekte ly! So bevind mense hulle dikwels in 'n geslote ruimte, soos
'n bioskoop of 'n teater, terwyl daar talle persone met infeksies, in 'n
mindere of meerdere mate, van die lugweë, keelholtes, of longe in die gehoor
teenwoordig is. Daar word soms gekug, genies of gehoes en heelwat fyn
druppeltjies wat organismes bevat, word oor 'n aansienlike ruimte versprei.
Maar daar breek geen epidemie uit nie. Trouens, na alle waarskynlikheid word
niemand siek nie! 'n Derde voorbeeld: Jy is opreis en jy moet van 'n toilet
langs die pad êrens gebruik maak. Die toilet is dalk nie sindelik nie, dis
dalk selfs opsigtelik vuil, maar jy het op daardie stadium geen keuse nie...
en tog doen jy nie gonorree op nie! 'n Vierde voorbeeld: Ons almal hanteer bykans elke dag
geld. Vir 'n wetenskaplike is dit kinderspeletjies om aan te toon hoeveel
organismes daar op papiergeld floreer! Veral of die papiergeld wat dikwels
uit 'n sweterige broeksak met 'n vuil hand opgediep word. En wie van ons
ontsmet ons hand elke keer nadat ons papiergeld gehanteer het? Tog breek daar
nie epidemies uit vanweë die hantering van papiergeld nie! Weer eens, ons
word nie eens siek daarvan nie! Al hierdie daaglikse voorbeelde toon aan dat 'n mens
voortdurend met siekteveroorsakende organismes te doen kry. Gewoonlik is die
dosisse van dieselfde siekteveroorsakende organisme te klein om die siektes
te kan versprei, veral waar dit deur die mond ingeneem word. 'n Infektiewe
dosis veronderstel die inname van 'n minimum konsentrasie van die
siekteveroorsakende organisme deur die mond. Teoreties, in
laboratoriumtoestande, kan 'n enkele organisme sekere siektes laat posvat.
Maar prakties is daar 'n minimum infektiewe dosis nodig om 'n siekte, veral
deur die mond, te laat posvat. Die rede hiervoor is die wonderbaarlike wyse
waarop die Here 'n aantal verdedigingsmeganismes in die mens ingeskape het. Onder hierdie verdedigingsmeganismes tel
die mens se natuurlike immuniteit, 'n ingewikkelde en omvattende aspek waarop
nie nou hier ingegaan kan word nie. Die nagmaalsbeker
aansteeklik?
Die vraag of die nagmaalsbeker nie 'n bron van aansteeklikheid
van besmetlike siektes is nie, kom in ons tyd sterker na vore. Dit gaan
hierby veral oor Vigs as 'n “nuwe” siekte. Die ontstaan daarvan kan herlei
word na 'n mutasie ('n genetiese vervorming) van ‘n bestaande organisme. Maar
selfs die mutasie van 'n organisme is geen toevalligheid nie. Ook 'n
gemuteerde organisme (wat baie, baie kleiner as 'n haar van jou kop is) kan
nie buite God se beskikking ontstaan nie. Hierdie bepaalde gemuteerde
organisme, wat as 'n gevolg van onsedelike handelinge van die mens na vore
tree, kan nooit losgemaak word van die Bybelse uitsprake oor sulke handelinge
wat vir God ‘n gruwel is nie (kyk Rom 1:21-28, veral die laaste deel van vers
27). Vigs is 'n siekte wat uit homoseksuele verkeer tussen mans
ontstaan het. Dit het verder versprei deur dwelmverslaafdes wat dwelmmiddels
met ongesteriliseerde spuitnaalde binne-aars toedien, mense wat
bloedoortappings ontvang het en besmette vroue wat kinders in die wêreld
bring. Dit kring teenswoordig steeds verder uit, ook deur die losbandige
heteroseksuele verhoudings van vroue wat met besmette mans geslagsgemeenskap
beoefen. Daar is wel al spore van die siekte in speeksel en trane gevind maar
daar is nog geen wetenskaplike bewys gelewer dat die siekte mondelings deur
speeksel of trane oorgedra kan word nie. Daar is egter onomwonde
wetenskaplike bewyse dat dit 'n besmetlike siekte is wat deur bloed oorgedra
word. Die siekte word deur herhaalde intieme geslagsverkeer, waar soms 'n
baie klein gedeelte van die weefsels beskadig word, of die direkte aanraking
met die bloed van 'n besmette persoon, oorgedra. Die indirekte kontak wat
tussen die lippe van mense in die gebruik van die nagmaalsbeker voorkom, kan
geen moontlike rol speel nie. Eweso is hepatitis B (geelsug) 'n siekte waarin die
veroorsakende virus in die bloed voorkom. Dit word deur middel van klein
hoeveelhede bloed, soos met die gebruik van besmette inspuitnaalde of deur
die byt van bloedsuiende insekte soos muskiete of wandluise oorgedra. 'n
Persoon met 'n besmetting van hepatitis A virus is so siek dat hy onder
kwarantyn geplaas word. Dit is dus onwaarskynlik dat hy aan die nagmaalstafel
sal verskyn. Daar bestaan ook geen epidemiologiese gegewens, asook
selfs waarnemings uit die ervaringswêreld van 'n gemeente dusver, wat daarop
dui dat enige oordraagbare siekte nog ooit sy oorsprong in die gebruik van 'n
gemeenskaplike nagmaalsbeker gehad het nie! Dit is so ten spyte van die
gebruik in baie kerke oor baie eeue. Uit die higiëniese beoordeling van die feite dusver tot
ons beskikking, blyk dus dat die gemeenskaplike beker tot op hede nie 'n bron
van besmetlikheid van aansteeklike siektes was nie. Dit blyk trouens menslik
gesproke dat besmetting deur die beker hoogstens 'n baie teoretiese
moontlikheid is. Die wesenlike punt - gehoorsaamheid Maar met hierdie beoordeling op wetenskaplike gronde kom
ons terug op die wesenlike punt waarom dit gaan: Sal God 'n valstrik vir sy
kinders stel, deur aan hulle 'n sakrament te gee waarin hulle moet deel, maar
waardeur hulle in verskriklike ellendes kan beland? Natuurlik sal God sy kerk
in die gerig bring - as die kerk ook in die gruwelike onsedelike praktyke van
die wêreld verval het. En dié oordeel sal geeneen ontsnap nie, hoe hy ook al
die gemeenskaplike nagmaalsbeker vermy. As 'n wetenskaplike het ek deur die loop van baie jare
agter baie mikroskope baie onder die indruk van die orde en die planmatigheid
van God se skepping gekom. Dit geld juis in die wonderwêreld van die
mikrokosmos. Daarom is dit vir my onmoontlik om te glo dat Hy die sakrament,
waarin die intieme geloofseenheid tussen bruid en bruidegom sigbaar word,
“ondeurdag” sou instel. Kom maar met 'n geruste gemoed na die tafel om die
brood te eet en uit die beker te drink. Wat vra die Here anders van ons as 'n
gehoorsame en 'n gelowige hart?
Aangehegte verslag soos vervat in Die Handelinge van die
ses-en-veertigste Nasionale Sinode: 8. HIGIëNIESE VERSLAG (GEPUBLISEERDE BYLAE) 8.1. Opdrag 8.1.1 Die Acta van die Sinode 1994:524, 3.2.4 maak slegs van
'n Liturgiese studie melding. Maar daar moet op gewys word dat die Notule wat
tydens die Sinode 1994 goedgekeur is, melding maak van ‘n grondige Liturgiese en Higiëniese studie. Daarom
word hierdie higiëniese studie as deel van die werk van die Deputate aan die
Sinode voorgelê. 8.1.2
Uitgangspunt van die Deputate was dat alle oorwegings afhanklik is van die
uitsprake in die Skrif (dus: Skriftuurlikeksegeties). 8.1.3
Higiëniese gegewens kan hoogstens vir kennisname wees, aangesien mediese
gegewens nie beginsels wat deur God gestel word, kan of mag oorheers nie. Hierdie Rapport is beperk tot die higiëniese aspekte
rondom die gebruik van die Nagmaalsbeker. Die vraag rondom die moontlikheid
dat die HIV of MIV ("Menslike Immuniteit-virus") deur die gemeenskaplike
gebruik van die Nagmaalsbeker oorgedra kan word, word breedvoerig bespreek. Verskeie bronne dui aan dat dit onwaarskynlik is dat die
HIV deur die gebruik van gesamentlike Nagmaalsbekers oorgedra kan word. 8.2 Die moontlike oordraagbaarheid van die HIV met die
gebruik van die nagmaalsbeker tydens die viering van die heilige Nagmaal. 8.2.1 Die Verworwe Immuniteitsgebreksindroom In die vroeë jare van die vorige dekade het die mediese
wêreld bewus geword van 'n totaal nuwe siektetoestand wat hoofsaaklik in
homoseksuele persone en dwelmverslaafdes voorgekom het. Dit het ook vinnig
aan die lig gekom dat 'n virus betrokke was, aangesien die toestand
oordraagbaar is deur middel van bloedoortappings in hemofiliese pasiënte. Montagnier van die Pasteur Instituut het die virus na 'n
intense soektog geïsoleer en gekweek. Teen 1990 het die Wêreld
Gesondheidsorganisasie die sindroom reeds in 100 lande oor die wêreld
gerapporteer. Dit het duidelik geword dat heteroseksuele oordraging van die
virus homoseksuele verspreiding daarvan ver oorskadu. Gedurende 1994 is
beraam dat sowat 10% van die bevolking van Afrika suid van die Sahara
geïnfekteer is. Enkele bepalings
uitgevoer in Botswana en KwaZulu dui aan dat ook hier reeds 10% van die
plaaslike bevolking reeds besmet is. Voorlopige studies gedurende 1994 by
Johannesburgse hospitale beraam dat sowat 1 uit elke 5 pasiënte wat daagliks
by hospitale aanmeld, reeds aan hierdie ongeneeslike siekte ly (Sunday Times,
7 Augustus 1994). Na besmetting neem dit 3 tot 17 weke voordat die pasiënt
antiliggame teen die virus vervaardig (baie gevalle egter nog langer).
Wanneer antiliggame teen die virus verskyn, word daar verwys na as “sero-conversion". Die periode van
latensie word die "vensterperiode" genoem en tydens hierdie latente
periode kan 'n pasiënt dus vals negatief getoets word. Die goedkoper
"Elizatoets”-metode word gedurigdeur gebruik om die aantal besmette
pasiënte in die steekproewe te evalueer. Hierdie toets kan slegs 'n positiewe
resultaat gee indien 'n besmette persoon serokonversie ondergaan het, en voor
dit geskied, is die toets vals negatief (al is die virus teenwoordig). Die
veel duurder en gekompliseerde "PCR"-toetsing word nie toegepas in
steekproefberaming nie (vanweë die koste daaraan verbonde), hoewel die metode
die virus net na besmetting kan opspoor. Hieruit kan 'n mens dus aflei dat
die persentasie van geïnfekteerdes hoër is as wat eintlik beraam word. Die virus kruis ook oor die plasenta en geïnfekteerde
moeders sal dus geboorte skenk aan besmette babas. Die virus word ook
uitgeskei deur moedersmelk wat dus ook dien as transportmedium vir
besmetting. Daar is verskeie seltipes
in die liggaam wat as primêre teiken vir die virus dien, nl. die
witbloedselle, breinselle, selle wat bloedvate belyn, en sg.
"dendritiese selle van Langerhans”. Ter inligting sal daar in
kort na die rol van die belangrikste teikenselle en besmetting verwys word. 8.2.1.1 Witbloedselle Daar is
5 tipes witselle waarvan die limfosiet-subtipe as die hoofteiken van
virusaanval dien. Limfosiete word verder in T- en B-tipes onderverdeel en die
T-limfosiete weereens in vier groepe. Die sg. "helper-T-limfosiet"
is die sel wat verantwoordelik is vir immuniteittsreaksies – dit beweeg in
die bloedstroom op soek na vreemde indringers (virusse, bakterieë, swamme en
selfs molekules waarvoor die persoon allergies is). Dit is ook die
helper-T-sel wat dan met die HIV in kontak kom wanneer die virus direk in die bloedstroom geplant word
soos gesien met bloedoortappings en intraveneuse dwelmmisbruik (waarby besmette naalde gebruik
word). Die helper-T-selle het
sekere molekules op die seloppervlak waaraan die virus bind en hierdie
molekule word die "CD4-Reseptor" genoem. Wanneer binding plaasgevind het, word die virus deur die
helper-T-sel "geprosesseer". Dan word die HIV in die helper-T-sel
se genetiese materiaal (geleë in die kern) ingebou. Die T-sel is op sy beurt
geaktiveer en sal dan die B-limfosiete stimuleer om antiliggame teen die
virus te produseer. Die tydperk wat
verloop tussen helper T-sel infeksie en B-sel stimulasie word (soos reeds
vermeld) die latente periode genoem. Die anti-liggame wat deur die B-selle vervaardig is,
verskyn in die bloedstroom en is eintlik oneffektief aangesien die virusse
buite die antiliggame se bereik in die helper-T-sel se kerne weggestoor is.
Die rede waarom die PCR-toetsmetode meer effektief is om die virus tydens
vroeë infeksie te kan identifiseer, is dat helper-T-selle van 'n bloedmonster
meganies oopgebreek word, waardeur die genetiese materiaal met virus en al
blootgestel word aan 'n spesiale merker molekule wat in staat is om die virus
aan te dui. Anti-liggame teen die virus verdwyn mettertyd, en die virus
programmeer dan die helper-T-sel en besmet daarna nuwe helper-T-selle. In die
proses word die eerste helper-T-selle beseer deurdat die meeste bars en
sodoende is daar 'n vermindering van helper-T-selle met gepaardgaande verlies
van immuniteitsresponse. Die persoon word dus vatbaar vir enige denkbare
infeksies van buite af en selfs vir die opflikkering van inherente latente
infeksies soos tuberkulose. 8.2.1.2 Dendritiese selle van Langerhans Soos die naam aandui, het die dendritiese selle takkies of
uitsteeksels op die oppervlak; hulle kom voor in die vel en slymvliese, wat
die hele respiratoriese stelsel (neus, keel, longe) spysverteringstelsel
(mond tot rektum) en urogenitale weë, belyn. Hierdie selle is dus in noue
kontak met die buitewêreld; en - net soos in die geval met helper-T-selle is
hulle gemoeid om vreemde indringers te identifiseer. Dit is hierdie sel wat
ook verantwoordelik is vir o.a. opname van die verkoue- en griepvirus,
hondsdolheidvirus hepatitis en poliovirus.
Dendritiese selle besit ook dieselfde CD4-Reseptor waaraan die gemelde
virusse bind. Na binding beweeg die dendritiese sel weg van die slymvlies af
na die limfstroom en beland uiteindelik in die bloedstroom of limfnode waar
dit met helper-T-selle in kontak kom. Tydens hierdie fisiese kontak dra die
dendritiese sel die virus oor aan die helper T-sel, wat weer op sy beurt die
B-selle stimuleer om antiliggame te produseer teen die indringers. Die volgende twee vrae kom na vore indien daar na die HIV
gekyk word: (i) Is die dendritiese sel in staat om 'n HIV te kan vang (dus kan
die HIV die bloedstroom indirek bereik vanaf die eksterne omgewing)? (ii) Is dit moontlik dat die HIV vanaf 'n besmette persoon oorgedra kan word na
'n ander deur speeksel? Bogenoemde twee vrae sal in die lig van navorsing, reeds gedoen oor 'n tydperk van agt jaar, beantwoord word. 8.2.1.3 Kan dendritiese selle die HIV opneem? Hierdie selle, soos genoem, kom voor in vel, oogslymvlies
en ander slymvliese wat die mond en geslagstelsels belyn. Hulle primêre
funksie is om vreemde molekules (virusse, ens.) te vang. Dendritiese selle
besit CD4-Reseptore en (soos vermeld) is dit die bindingsareas vir virusse
(soos bv. die HIV). Na binding aan 'n
virus beweeg die dendritiese sel na die limfnodes waar oordraging aan
helper-T-selle geskied. Dit is ook reeds bevind dat daar tydens die
VIG-sindroom 'n afname is in die aantal dendritiese selle in die slymvlies
van die mond, blykbaar te wyte aan fisiese skade berokken aan hierdie selle
nadat die HIV opgeneem is. Dendritiese selle speel blykbaar die primêre rol in virale
oordraging gedurende seksuele aktiwiteit.
(Verwysing: Haseltine 1991 -
Virus may thrive in lining of sex organs. New scientist, 29 June.) Die
volgende is 'n aanhaling uit hierdie verwysing: "Cells in the linings of
the sex organs can harbour HIV and allow it to replicate rapidly. Many scientists believed until now that
blood must be present - even in very small quantifies - for HIV to be
transmitted. The new findings suggest they were wrong. Langhoff, Haseltine
and others carried out laboratory studies on dendritic cells, found on all mucous
membranes the body's front line of defence against the outside world. To their surprise, Langhoff and his colleagues found that HIV grew much faster in immature dendritic cells than in cells known to be its usual targets, namely the CD4-lymphocytes. The team also found that low concentrations of the virus were needed to infect the dendritic cells. Haseltine's team said that, as dendritic cells are present in the mucous membranes of the mouth as well as those of the vagina and rectum, there is a theoretical possibility of spreading HIV by saliva". 8.2.1.4 Kan HIV in speeksel voorkom? Dit is bekend dat persone met VIGS ernstige
tandvleisontsteking ondervind wat gepaard gaan met matige bloedings. Bloed vanaf tandvleis letsels kan dus in
die speeksel voorkom. Ulserasies van
die mondslymvlies kom oor die algemeen voor in hierdie pasiënte en dien ook
as deurgangspunt vir rooi- en witbloedselle.
Die speekselkliere van HIV-besmette persone toon dikwels ontsteking en
biopsies van hierdie kliere toon altyd 'n digte versameling van limfosiete,
sommige waarvan in die speeksel afgeskei word. Uit die vorige punte is dit dus duidelik dat witbloedselle (en
spesifiek ook T-limfosiete) in die speeksel kan voorkom, soos wat ook die
geval is by melk- en geslagsafskeidings. Die teenwoordigheid van die HIV is ook deur
elektronmikroskopie in speekselklierweefsel gevind deur Lecatsus en sy
medewerkers. Hulle voel dat speeksel 'n moontlike roete is vir oordraging van
die HIV aangesien daar 'n klein persentasie besmette persone voorkom wat aan
geen bekende risiko-faktore blootgestel was nie. Die HIV is daarenteen ook so
vroeg as 1984 deur Groopman en medewerkers deur elektronmikroskopiese studies
direk in ‘n speekselmonster gevind. Hierdie outeurs publiseer dan ook 'n foto
van 'n HIV wat geleë is op die oppervlak van ‘n limfosiet wat in die
speekselmonster voorgekom het. Dit wil voorkom of daar 'n anti-HIV faktor in
speeksel natuurlik voorkom. Verskeie studies is gedoen waar liggaamselle kunsmatig
gekweek, dan met die HIV besmet en vervolgens met speeksel geïnkubeer
word. Hierdie anti-HIV eienskap, van
speeksel is blykbaar beperk en net in staat om 'n sekere aantal HIV te kan
teengaan. Nieteenstaande die moontlikheid van die bestaan van inhibitoriese
eienskappe wat speeksel op die HIV mag uitoefen, word daar wel van die
teenwoordigheid van die virus 'n speeksel gerapporteer. Enkele studies sal
dit illustreer in die studie van Lucht et al, is speekselmonsters van 59
HIV-positiewe pasiënte getoets vir die teenwoordigheid van HIV: in 9 gevalle
(15%) is die virus wel in die speeksel gevind. Rickman et al. vind ook HIV in speeksel en hulle voel dat
die virus via mensbyte oordraagbaar is. Yeung et al. ondersoek
speekselmonsters van 80 besmette persone en kon HIV in 16 van die gevalle
isoleer. Yeh et al. het die speekselklier en speeksel van ‘n VIGS-lyer
ondersoek en die virus in beide gevind. ‘n Biopsie van die speekselklier het
groot hoeveelhede van die virus opgelewer. Die teenwoordigheid van HIV in
speeksel en speekselkliere is ook gedokumenteer deur Fox, alhoewel hy vind
dat die konsentrasie van die virus in die speeksel skynbaar laag is en dat
die HIV nie in alle gevalle teenwoordig was nie. Volgens Haseltine speel viruskonsentrasie (dus hoeveelheid betrokke) nie ‘n rol in oordraging
nie aangesien ‘n baie lae konsentrasie besmetting in sy proewe kon veroorsaak. Nog vele artikels is geskryf wat die teenwoordigheid van
HIV in speeksel noteer, maar met bg. notasies word volstaan ter stawing van
die felt dat, nieteenstaande die teenwoordigheid van anti-HIV faktore, die
virus tog in speeksel aangetoon is. Ter opsomming kan die volgende
punte kortliks uitgelig word: ·
Bloedings
in HIV-besmette persone se monde is 'n algemene verskynsel en dra by tot die
teenwoordigheid van HIV in speeksel. · Dit is bekend dat bykans alle bekende virusse in speeksel voorkom, soos hondsdolheid, verkoue, griep, pampoentjies, hepatitis, klierkoors, sitomegaalvirus, polio, meningitisvirus, gastroenteritis-virusse, ens. · Die selle wat virusse "vang" (nl. dendritiese selle) kom in die belyning van die mondslymvlies voor en hulle bevat die CD4-Reseptor - nodig vir die optel van HIV. ·
Daar
is wel virusse in speekselklierweefsel en speeksel self deur elektronmikroskopiese
studies aangetoon. Dit is nie te betwyfel nie dat daar nog nie genoegsame
studies gedoen is om die speekseloordragingsroete onomwonde as ‘n metode van
infeksie-oordraging te bewys nie. Dit sou onprakties wees aangesien kliniese
toetse hiervoor vanuit ‘n etiese oogpunt onmoontlik sou wees. Daar kan dus
nie met sekerheid verklaar word dat sosiale kontak geen gevaar inhou nie. Dit
staan wel vas dat HIV in speeksel voorkom, te midde van die sg.
"anti-HIV faktore" en dat dendritiese selle, wat die virus kan
opneem, in groot hoeveelhede in die mondslymvliese van gesonde persone
teenwoordig is. Oordraging van
potensieel gevaarlike mikroöganismes wat hepatitis, griep, tuberkulose,
meningitis en ander siektes veroorsaak, bly steeds 'n wesenlike gevaar tydens
sosiale kontak en in hierdie verband dien speeksel as 'n roete van oordraging. 8.3 Evaluering Wyn vir Nagmaal bevat ongeveer 12 persent alkohol sowel as
ander stowwe soos tannien, in genoegsame konsentrasie om oor die lang tyd wat
wyn opgeberg word, enige kiem of virus te vernietig. Wyn vir Nagmaal is dus
aan die begin vry van siekteveroorsakende organismes en 'n baie ongunstige
medium vir die voortbestaan en oordraging van enige sulke organismes
(Brondokument 1). Die oorsake van Vigs kom in die bloed voor, dit wil sê: dit
is 'n bloedgedraagde, besmetlike siekte. Dit kom voor by homoseksuele en
heteroseksuele mans en vrouens, dwelmverslaafdes, mense wat besmette bloed
ontvang het, kinders gebore uit besmette moeders en die vroue van mans wat
met die virus besmet is. Alle mans en vrouens wat met die HIV besmet is,
versprei die virus na almal wat met hulle intieme geslagsverkeer het. Dit is reeds bo alle redelike twyfel vasgestel dat Vigs
alleen deur herhaalde intieme geslagsverkeer, of deur die aanraking met bloed
van 'n besmette persoon, oorgedra kan word en dat die indirekte kontak wat
bestaan tussen die lippe van mense in die gebruik van die Nagmaalsbeker, geen
moontlike rol kan speel nie (Brondokument 1). Die aksie van wyn-drink uit die beker is vanuit die beker
na buite. Enige besmetting van die beker sal dus kom van die lippe van die
Nagmaalsganger en sal deur momentele aanraking op die rand van die beker
gedeponeer word. Dit impliseer dat die dosis van enige besmetlike organisms
wat op die rand van die beker agterbly, klein is omdat beide die wyn en die
metaal van die beker nie 'n geskikte medium vir vermenigvuldiging van
siekteveroorsakende organismes is nie. Verder is daar ook nie genoeg tyd vir vermenigvuldiging
nie. As ‘n tweede Nagmaalsganger op presies dieselfde plek as die eerste
drink, verwyder die momentele aanraking van sy lippe van die besmetting, maar
nie alles nie. As 'n derde persoon die beker op presies dieselfde plek
gebruik, kan hy ook net 'n baie lae dosis van die siekteveroorsakende
organisme inneem. Die grootste waarskynlikheid is dat die dosis van die
organisme wat ingekry is, te klein is om enige siekte te veroorsaak. Enige
siekteveroorsakende organisme het 'n minimum-infektiewe dosis, en die
minimum-infektiewe dosis deur die mond is hordes groter as deur die vel,
binnespiers of binne-aars. Daar bestaan in die praktyk talle voorbeelde waarby mense
aan sub-infektiewe dosisse van organismes blootgestel word sonder enige
gevolge. Mense gaan na 'n bioskoop of 'n teater sonder dat daar 'n uitbreek
van siekte voorkom, terwyl daar talle individue met infeksies van die lugweë,
keelholtes of longe in die gehoor in die geslote ruimte is. ‘n Persoon met 'n besmetting van die neus, keelholte en
longe blaas sy neus met ‘n sakdoek.
Dit bring mee dat daar van die besmetting op sy hande kom. Hy groet 'n
tweede persoon met die hand direk daarna en dra so van die besmetting oor op
die hande van die tweede persoon. Die tweede persoon raak aan sy mond of
neus, maar raak nie besmet nie omdat die dosis van organismes waarmee hy in
aanraking gekom het, te laag is. Hoeveel besmetting is daar nie op geld, veral papiergeld
nie? Mens doen nie gonorree op deur die gebruik van ‘n publieke toilet nie. As mens dus al die vorms van kontak met sub-infektiewe
dosisse van siekteveroorsakende organismes wil vermy, moet jy in absolute
isolasie gaan lewe. In 'n
artikel getiteld "Aids SA HIV in
Saliva (speeksel - Dep) What are
the risks?" vind ons die volgende uitlating oor die moontlike
oordraging van die HIV in speeksel: "There have been a number of
observations and studies which indicate the total absence of salivary
transmission of HIV. For example, two prospective studies of individuals
bitten by HIV infected patients. In
one a haemophiliac who bit eight health care workers, in another, relatives
bitten by a HIV infected child and in a third, 30 health care workers bitten
or scratched by a violent Aids patient. In none of the bite recipients was
sero-conversion detected. In some 14 combined studies involving 750
individuals living in close and often intimate contact with family or
household members infected with HIV, none have sero-converted despite the
prolonged and repeated sharing of personal items such as combs, towels, nail
clippers, eating utensils, plates, drinking glasses and cups"
(Brondokument-2). Uit bogenoemde is dit dus duidelik dat verskeie studies
reeds gedoen is en dit dui daarop dat die HIV nie deur speeksel tydens die
gebruik van eetgerei en glase oorgedra kan word nie. Die volgende word
genoem: "No bacterial or mycotic growth was seen in any of the three
whole saliva/virus cultures, including the non-filtered antibiotic
anti-mycotic sample (Brondokument 3). ‘n
Paar van die siektes waaroor mense besorg is, kan in groter besonderhede behandel
word: 8.3.1 Oor Hepatitis B Dit is 'n siekte waarin die veroorsakende virus in die
bloed voorkom. Dit word oorgedra deur
klein hoeveelhede bloed, bv. met die gebruik van besmette inspuitnaalde of
deur die byt van bloedsuiende insekte soos muskiete of wandluise. 8.3.2 Oor Hepatitis A 'n
Persoon met 'n besmetting van hepatitis A-virus is 'n baie siek persoon en
word onder kwarantyn
geplaas. Dit is dus
onwaarskynlik dat by aan die Nagmaalstafel sal verskyn. 8.3.3 Oor Epidemiologie Daar bestaan geen epidemiologiese gegewens wat daarop dui
dat enige oordraagbare siekte nog ooit sy oorsprong gehad het in die gebruik
van 'n gemeenskaplike Nagmaalsbeker nie.
Dit is so ten spyte van die gebruik in baie kerke oor baie eeue. 8.4 Teenargumente Daar is verskeie argumente wat poog om te toon dat die HIV
wel deur speeksel en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra kan word. Daar is
onder andere in 1985 beweer dat die HIV nie so sensitief van aard is dat dit
tot niet gaan wanneer dit met lig-, lug- of temperatuur-verskille in
aanraking kom nie. Dit sou beteken dat die virus moontlik ook op ander
maniere as deur seksuele kontak oorgedra kan word. Daar is egter tot op datum
geen sodanige geval wetenskaplik vasgestel nie (Brondokument 4). Dit sou
beteken dat die virus oorgedra kan word aan familielede, vriende, mediese
personeel, ensovoorts, wat in aanraking sou wees met HIV-positiewe en/of
Vigsverwante pasiënte. Daar is selfs beweer dat die virus oorgedra kan word
ten spyte van mediese maskers en beskermende klere. 'n
Bewese felt is dat die virus wel geïsoleer kan word in saliva (speeksel),
hoes- en nies-partikels en ook in muskietspeeksel. In 'n verdere artikel getiteld "The battle over Aids:
Disease control vs. hysteria control" word die volgende op bladsy 22
beweer: "The Aids virus, far from being fragile, is exceptionally
hardy. The Aids virus is unusually
stable outside the human body. It retains almost all its infectivity after
seven days in water at room temperature and some after being kept dry for a
week" (Brondokument 5). Medies-wetenskaplike feite en navorsing gedurende die
laaste dekade het egter pertinent aangetoon en bewys dat geen enkele geval
van HIV oordraging op sodanige manier plaasgevind het nie. Dit is egter
irrelevant of die virus wel weerstandig of sensitief is en of die virus buite
die liggaam kan oorleef. Ook of die virus in ander liggaamsvloeistowwe
geïsoleer kan word. Daar moet deurentyd in gedagte gehou word dat die
Nagmaalsbeker en die wyn geensins gunstige mediums vir die oordra van enige
virus is nie. Daarbenewens is daar tot op datum geen gevalle geïdentifiseer
waar die virus op maniere (soos genoem in relevante paragrawe) oorgedra is
nie. 8.5
Gevolgtrekking Daar bestaan onteenseglike wetenskaplik-gefundeerde bewys dat die oordraagbaarheid van die HIV alleenlik teweeggebring word op die volgende primêre wyses, naamlik: ·
Direkte
seksuele kontak
Alternatiewe metodes van oordraging, insluitende noue
persoonlike kontak (nie-seksueel), insekte, omgewingsbronne asook statiese
voorwerpe soos wasbakke, toilette en onder andere eetgerei is hoogs
onwaarskynlik. In veertien wêreldwye epidermiologiese (vel-) studies is geen
enkele geval van nie-seksuele, nie-veldeurdringende oordraging geïdentifiseer
nie. Die wetenskaplike waarskynlikheids-bepaling van oordraging van ander
metodes behalwe eersgenoemde drie is nul (Brondokument 6). Bogenoemde staaf die inleidende argument dat daar geen
wyse is waarop die HIV deur die gebruik van die Nagmaalsbeker oorgedra kan
word nie. 8.6 Opsommend kan die volgende gestel word: 1.
Bogenoemde uittreksels uit wetenskaplike navorsingsartikels versterk die vermoede
dat daar geen wyse is waarop die HIV deur die gebruik van die Nagmaalsbeker
oorgedra kan word nie. 2. Hoewel HIV ook
in speeksel voorkom, is hulle voorkoms in bloed baie groter. Daar is geen deurslaggewende getuienis dat
die HIV deur speeksel oorgedra kan word nie. 3.
Besmetting met die HIV virus kan plaasvind deur seksuele kontak, besmette
bloed of bloedprodukte van moeder na kind. Daar bestaan belangrike getuienis
dat die oordrag van die HIV alleen kan plaasvind deur seksuele kontakte,
wanneer die vel deurdring word, en deur 'n besmette moeder op haar kind. 4. Daar bestaan wel ‘n risiko dat ‘n min of
meer ernstige virussiekte deur die Nagmaals-beker oorgedra kan word, hoewel
die moontlikheid hiervan uiters skraal is. Volgens mondelinge getuienis van
navorsers by die Nasionale Instituut vir Virologie blyk dit dat swaarmetale
(bv. goud, silwer en vlekvrye staal) waaruit Nagmaalsbekers gemaak word -
virusse feitlik onmiddellik uitwis. Daarby is virusse nie bestand teen
alkohol (wat in die wyn voorkom) nie. 5. Dit
is duidelik dat die indirekte kontak wat bestaan tussen die lippe van mense
by die gebruik by die Nagmaalsbeker geen moontlike rol kan speel in die
oordrag van Vigs nie. Besmetting deur die Nagmaalsbeker is hoogstens ‘n baie
geringe teoretiese moontlikheid. 8.6
Aanbeveling Die getuienis aangaande die moontlikheid van enige besmetting van siektes deur die Nagmaalsbeker is uiters skraal. Die Sinode neem die vrese vir virusbesmetting deur middel van die gebruik van die Nagmaalsbeker nie in oorweging by die vasstelling van beginsels wat deur God in sy Woord vasgelê is nie. In
die lig van bogenoemde verslae en aangesien dit wetenskaplik bewys is dat die
moontlikheid van enige besmetting van siektes deur die Nagmaalsbeker heel
onwaar-skynlik is en ook aangesien daar tot dusver geen feite tot ons
beskikking is dat die gemeenskaplike Nagmaalsbeker 'n bron van besmetlikheid
van aansteeklike siektes was nie, beveel hierdie kommissie aan dat die
gemeenskaplike Nagmaalsbeker behou moet word. |