![]() |
|
Sonde teen die Heilige Gees Jy weet dalk: heelwat mense het al met die kwelvraag rondgeloop of hulle miskien die sonde teen die Heilige Gees begaan het. En dan het hulle gedink aan bepaalde seksuele sondes wat hulle gedoen het. Of ander verborge sondes wat hulle aan byna niemand durf bely het nie. Dalk
worstel jy met die probleem in jou lewe: het ek nie die onvergeeflike
sonde teen die Heilige Gees gedoen nie? Die
sonde teen die Heilige Gees is egter niks anders as 'n hardnekkige
verwerping van die Woord van God nie. Dit is die weiering om die Gees
van God sy bevrydende werk in jou lewe te laat verrig; die weiering om
jou deur Hom by die Here Jesus Christus te laat inlyf, die weiering om
jou deur Hom so te laat regeer dat jou lewe aan die lewe van Christus
gelykgemaak word. Daar
is vir enige sonde vergewing, het Christus gesê; maar wie die Heilige
Gees nie in sy lewenshuis wil toelaat nie - hoe kan hy of sy vergewing
kry? Ek kan dus die wat bang is dat hy of sy die sonde teen die Heilige
Gees gedoen het, gerusstel: juis die angs dat jy die Gees bedroef het,
is die beste bewys dat jou lewenshuis nie vir die Gees toegesluit is
nie. Jou vrees dat jy nie volgens die Woord van God gehandel het nie,
bewys alleen maar dat jy jou wel deur daardie Woord wil laat regeer. Die
wat heeltemal onverskillig staan teenoor God se Woord, die wat hom
toenemend afsluit vir die vermaning van sy ampsdraers of medegelowiges,
dié broeder of suster moet eerder bevrees wees vir Christus se
waarskuwing teen die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees. Hou maar
u ore wawyd oophou om te hoor wat die Gees tot die gemeente sê. Bly
besef met Wie u te make het so dikwels die Woord van God aan u voorgehou
word. Wie Hom afwys, wys die lewe af! "God
laat hulle ook nie so diep val dat hulle uit die genade van die
aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie."
Ek, sondaar soos ek is, mag ’n kind van God wees. Wat ’n genade! Om
kind in die huis by God die Vader te mag wees! Om te geniet van die
regte en pligte van ’n kind van God. Besef ons nog wat dit beteken?
Wat gebeur dan wanneer ons in sonde val? Werp Hy my dan uit die huis uit?
Hy laat my nie uit die genade van Sy aanneming uitval nie. Ek is regtens
iemand wat vrygespreek is. Vry van skuld en straf. Ek het reg op die
ewige lewe. Danksy Christus, my Borg. Dikwels leef ek nie in
ooreenstemming met die regsposisie nie. Maar God laat my nie so diep val
dat ek uit die regsposisie sou uitval nie. In Christus bly ek
vrygespreek. Ook al haat die Vader my sondes en keur Hy dit ten sterkste
af. Wat ’n ryke troos, terwyl ek in die moeras van die sonde verkeer. Maar,
wat dan van die sonde teen die Heilige Gees? Kyk maar na Hebr 6:4-6.
"Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die
hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die
goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
en afvallig geword het – om die weer tot bekering te vernuwe, omdat
hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik
tot skande maak." As
jy dit so lees, lyk dit asof jy as gelowige tog kan afval en verlore kan
gaan. Daar word gepraat van mense wat eenmaal verlig geword het, die
hemelse gawe gesmaak het, die heilige Gees deelagtig geword het en die
goeie woord van God gesmaak het. As hulle afval, dan is dit onmoontlik
dat hulle weer tot bekering kom. Praat God dan nie hier van gelowiges
nie? Kom ons kyk van naderby na die verskillende uitdrukkings: “Die
wat eenmaal verlig geword het.” As jy hierdie woorde met Hebr 10:26
vergelyk dan sien jy dat dit dui op hulle wat die kennis van die
waarheid ontvang het. Hulle het die evangelie dus gehoor en God en sy
diens leer ken. Hulle het die hemelse gawe gesmaak. Hulle het hul geloof
bely. Hulle het nagmaal gevier. Hulle het uit die beker gedrink.
Vervolgens word gesê dat hulle die Heilige Gees deelagtig geword het.
Kan iemand wat die Heilige Gees deelagtig geword het, dan tog die
Heilige Gees heeltemal verloor? Nie werklik nie. Ander gedeeltes van die
Skrif is duidelik genoeg daaroor. Wat word dan bedoel met hulle wat
die Heilige Gees deelagtig geword het? Hier word gewys op mense wat
in die gemeente verkeer het en deel gehad het aan die gawes wat Christus
vir sy gemeente gee. Oënskynlik is hulle soos die ander lidmate. Jy
sien aan die buite kant geen verskil nie. Hulle is volwaardige lidmate
van die gemeente. Maar later word hul ware gedaante openbaar. Hulle het
wel baie verstandelike kennis van God, maar geen ware verhouding met God
nie. Hulle blyk dus geen ware gelowiges te wees nie. Hulle keer hulle
bewus teen die God wat hulle leer ken en bely het. Hebr 10 benadruk dat
hulle opsetlik sondig. Dis mos mense wat die waarheid ken, maar opsetlik
hulle daarteen verset. Maar ondermyn hierdie moontlikheid nie die
sekerheid en troos wat ons bo juis benadruk het nie? Dalk is ek ook een
van hulle wat uiterlik tot die gelowiges behoort, maar nie ’n ware
gelowige is nie. En as ek dan diep val, wie sê dat ek dan ook nie buite
die bereik van vergewing en bekering kom nie? Dalk het ek ook die sonde
tot die dood of teen die Heilige Gees gedoen? Ja, daar is mense wat in
hul sonde met hierdie vraag worstel en geen lig sien nie. Nee,
onthou: mense wat die onvergeeflike sonde doen, worstel allermins met
die sonde. Hulle het geen enkele gewetenswroeging daaroor nie.
Kenmerkend is juis dat hulle opsetlik teen God opstaan, terwyl Hy
homself nou so ryklik deur sy Heilige Gees aan hulle bekendgemaak het.
Daar is by sulke mense geen spyt of berou nie. Berou is mos die vrug van
die Heilige Gees. Daarom is mense wat teen die Heilige Gees sondig altyd
verhard. Ons kan rustig sê: as jy worstel met die vraag of jy
moontlik die onvergeeflike sonde gedoen het, jy dit dan juis nie gedoen
het nie. Want “God bewaar in Sy kinders Sy onverganklike saad
waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word
nie." So bely ons dit. God het in my hart ’n nuwe lewensbeginsel
gewerk. Die beginsel kan nie vernietig word nie. God bewaar dit. Daarom
is daar nog die innerlike stryd en onrus oor die sonde. Die Here bring
Sy kind letterlik telkens terug na Homself. So bely ons dit: "Ten
tweede vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot
bekering." Wie in sonde val moet vernuwe word. God sorg daarvoor
deur sy Woord en Gees. En
wat is die gevolg? So bely ons dit: "Die gevolg is dat hulle oor
die sondes wat hulle gedoen het, van harte en volgens die wil van God
berou het en deur die geloof, met ’n gebroke hart, vergifnis in die
bloed van die Middelaar begeer en verkry." Geen oppervlakkige en
goedkoop berou nie. Geen berou vanweë die sonde se nadelige gevolge vir
jouself of die skade wat jy jou eie naam aangedoen het nie. Berou
volgens die wil van God is: "teen U alleen het ek gesondig en
gedoen wat verkeerd is in u oë. Ek het u naam skade aangedoen. Dit
is vir my die ergste." En: "vergeef my my sondes. Om
Christus ontwil. Op grond van sy lyding en dood. So besef ons opnuut hoe
groot God se genade is. Dan wil ons die sonde des te meer haat en
ontvlug. En volgens die wil van God lewe. Ootmoedig, en verantwoordelik,
in vertroue op Hom. WAT
IS HIERDIE SONDE DAN?
Dit
is eintlik reeds duidelik wat die onvergeeflike sonde is. Maar aangesien
misverstande en dwalings oor ons tema aan die orde van die dag is, is
dit nodig om dit maar goed te deurtrap. Deeglike
lering oor hierdie saak, anders as in die Nuwe Testamentiese gemeente,
kry ongelukkig nie die aandag wat dit moet nie. Enersyds is dit die
oorsaak van baie onnodige pastorale ellende; andersyds maak dit die deur
oop vir allerlei sielsvernietigende dwalings.
DIE
ONVERGEEFLIKE SONDE HET DRIE FOKUSPUNTE:
Uiteraard bedoel die Skrif nie dat dit vir die Gees onmoontlik is om so 'n persoon tot inkeer te bring nie. Maar diegene wat hom (of haar) probeer bearbei, vind dat hulle niks uitrig nie. Waarom? Die Here gee nie meer bekeringsgenade nie, tewens, Hy het hom oorgegee aan sy eie verdorwenheid. Self
het so 'n persoon geen begeerte na redding nie. Dit pla hom nie en
welmenende gelowiges se pastorale besorgdheid laat hom koud. Dit kan hom,
tewens, erg irriteer. Wat dan van Esau wat onder trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel (Heb 12:17)? Soos in Saul en Judas Iskariot se geval (1Sam 15; Mat 27:3-10), was dit ook nie egte berou nie, maar hartseer oor die seën wat hy deur sy vingers laat glip het.
BYBELSE
VOORBEELDE
Talle
tragiese karakters in die Bybel het waarskynlik hierdie sonde gepleeg.
Bileam
het sekerlik geweet dat hy met die ware God te doen het. Hy het Hom
persoonlik as die lewende, genadige en verlossende Een ontmoet (Num
24:15-19). Tog draai hy sy rug op Hom en adviseer Balak om die
verbondsvolk tot afgodery en onsedelikheid te verlei. Uiteindelik sterf
hy onder God se toorn (Num 31:8, 16). Die
Nuwe Testament verwys drie keer na hom as die klassieke dwaalleraar. Vir
wêreldse loon het hy die waarheid geweld aangedoen (2 Pet 2:15-16; Jud
11; Op 2:14).
Die
uitstaande voorbeeld is egter Judas Iskariot. As een van die Twaalf was
hy vir drie jaar in die binnekring. Hy het alles gehoor, alles gesien,
alles beleef. Sekerlik het hy presies geweet wie Jesus was. Daarbenewens
het die Heilige Gees waarskynlik kragtig deur hom gewerk toe ook hy
uitgestuur is met die nodige mag en gesag om duiwels uit te dryf, siekes
te genees en dooies op te wek (Mat 10:8; Mark 6:7, 13; Luk 9:1-2, 6).
Tog het hy die Here verraai. En ten spyte van berou (Mat 27:3-4), sterf
hy 'n allerverskriklike en hopelose dood. Die
feit dat die ander apostels voor die tyd nie besef het Judas is 'n
huigelaar nie, stem mens tot diepe nadenke. Lees
ook: (1 Joh 5:16, 17; Mat 12:24-32; Luk 12:10; Mark 3:28, 30; Num
15:30,31; Heb 6:4-8)
WAT
IS HIERDIE SONDE DUS NIE?
Ten
einde alle moontlike misverstande uit die weg te ruim, is dit ook nodig
om hard en duidelik te sê wat die onvergeeflike sonde nié is nie. Hierdie
sonde word nie onbewustelik gepleeg nie, maar wel doelbewus en
dus opsetlik. Op ten minste twee plekke in die Nuwe Testament, waar die onvergeeflike sonde beslis 'n moontlikheid was, is vergiffenis ter sprake op grond van die sondaars se onkunde. In Luk 23:34 bid Jesus, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." En in 1Tim 1:13 skryf Paulus dat die Here hom in Sy diens gestel het, "al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek gedoen het nie." Hierdie
was al 'n Ou Testamentiese beginsel. Voorsiening word in Num 15:22-29
gemaak vir die vergiffenis van onopsetlike
sondes. V.30-31 gaan egter voort: "Maar die landsburger of
vreemdeling wat moedswillig
sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy ... moet ... doodgemaak word;
hy moet die straf vir sy sonde dra." Mense
wat in angs lewe dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het, maar
opreg (vanuit hulle harte) begeer na vrede met God en sekerheid van
saligheid, het feitlik vir seker nie hierdie sonde gepleeg nie. Die
onvergeeflike sonde lei tot 'n hardheid van hart en 'n ongeërgdheid oor
die Here. Mense
wat die evangelie hoor, selfs oor en oor en baie duidelik in waarheid,
maar Christus steeds nie aanneem nie, het nie sonder meer hierdie sonde
gepleeg nie. Natuurlik leef diesulkes in sonde, maar as hulle nie 'n
lang en diep oortuigingswerk van die Gees in hulle harte ervaar het nie,
is hulle sonde waarskynlik nie "teen die Gees" nie, maar
"teen die Seun van die mens", waarvoor daar wel vergiffenis
is. Laat elkeen wat Christus tot nou toe verwerp het en bang is dat hy
(of sy) hierdie sonde gepleeg het, homself waarlik bekeer, en Hy sal
sekerlik vind dat die Here hom aanneem (Joh 6:37). Ons
lees van talle Christus-verwerpers in die Bybel wat later wel tot
bekering gekom het: onder meer Paulus (Hand 26:9; 1Tm 1:13), Jesus se
broers (Mark 3:21; Joh 7:5) en sekere Joodse priesters (Hand 6:7). Kinders
wat in Christelike huise groot word, het dikwels na jare se
blootstelling aan die evangelie alles behalwe 'n diepte-insig daarin.
Baie van hulle breek dan weg van die waarhede waarin hulle opgegroei
het, net om later radikaal tot geloof te kom. Mense
wat in die onkunde en dwaasheid van hulle ongeloof onverantwoordelike,
selfs lasterlike dinge teen die Heilige Gees gesê het, het verskriklik
gesondig, maar dit is nie die onvergeeflike sonde nie, omdat dit nie
opsetlik was nie. Die
Skrif waarsku dat ons met ons sonde die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30),
en dat ons Sy werk in ons midde kan uitblus (1Thes 5:19, OAV). Beide
waarskuwings moet baie ernstig opgeneem word, maar nie een daarvan is
die onvergeeflike sonde nie. As
God se Woord teen die onvergeeflike sonde waarsku, wil dit nie leer dat
ware kinders van God weer verlore kan gaan nie. In
Joh 10:27-30 leer die Here Jesus baie uitdruklik dat die skape wat deur
die Vader aan Hom as Goeie Herder gegee is (29), nooit weer kan verlore
gaan nie. Hy gee aan hulle "die ewige lewe" (28); niks kan
hulle uit Sy of die Vader se hand ruk nie (28-29); en dus sal hulle
"in alle ewigheid nooit verlore gaan nie" (28). Hier en op
talle ander plekke leer die Skrif dat nie 'n enkele uitverkorene ooit
verlore sal gaan nie, die Seun sal elkeen wat die Vader aan Hom
toevertrou het uit die dood opwek (Joh 6:33-58).
Eerstens wil die skrywer nie in hierdie waarskuwings leerstellige lering gee nie. Hierdie is pastorale oproepe, wat steeds in enige gemeentelike situasie kan en moet plaasvind. Alle mense, ware gelowiges en huigelaars, moet dit hoor, in hulle hoedanigheid as verantwoordelike en aanspreeklike mense. Die Heilige Gees werk immers deur die Woord en gebruik juis sulke oproepe om die uitverkorenes in hulle wedloop aan te spoor. Tweedens
is Heb 6:7-8 'n kort gelykenis wat aan die voorafgaande verse met "want"
(OAV) verbind word. Dit bied dus 'n verduideliking daarvoor. Die
reën wat gereeld val, is 'n tipiese beeld in die Bybel vir God se seën.
Hier dui dit op die ervaringe in v.4-5. Maar reën val op alle soorte
grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan
opkom nie, bruikbare gewasse of onkruid. Die
verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond. Diegene
wat hier beskryf word, bring onkruid voort, ten spyte van die reën van
God se seën op hulle lewens. Dis wat ná die Here se goedheid volg, wat
die aard en gesteldheid van 'n mens se hart uitwys. Waarmee
die skrywer dus hier werk, is die algemene Bybelse beklemtoning dat daar
'n onverbreekbare verband is tussen hart en uitlewing, tussen boom en
vrug (Mat 7:15-20; 12:33-37). Sy punt met hierdie gelykenis is dus
duidelik: geloofsversaking is
eenvoudig bewys dat die hart nog nooit herskep is nie. Heb
6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy dringende
waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof nie sal
versaak nie: "... geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge
oortuig ..." (OAV). Wat is die "beter dinge"? Vers
10-12 begin weer met "want" (OAV) en verduidelik dus v.9. Die
"beter dinge" is die lesers se liefde en goeie werke. Beter as
wat is dit? Dis beter as die belewinge van v.4-5! En waarom is dit
beter? Omdat dit "saamhang met die saligheid" (v.9b, OAV). Die
merktekens van wedergeboorte en ware redding is dus al vir jare
onmiskenbaar! En daarom, so glo die skrywer, sál sy lesers volhard. Is
dit dan moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Heb 6:4-5 kan
hê? Inderdaad! 'n Studie van Heb 6:4-5 se vyf uitdrukkings in die res
van die Skrif, toon dat hierdie belewinge (afsonderlik en gesamentlik)
ook deur ongeredde mense ondervind kan word. Wanneer
mens se oë daarvoor oopgaan, is dit skokkend om in die Skrif te sien
tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk, alles duskant
die wedergeboorte (vgl. Mat 7:21-23).
VOLHARDING
VAN DIE HEILIGES Volgens
die Skrif is dit 'n verskriklike moontlikheid om vir 'n tyd lank (dit
kan jare wees) in die kring van die gemeente, en dus in die sfeer van
God se genadewerkinge te beweeg, en tog uiteindelik vals blyk te wees.
Dis waarom Johannes kan praat van mense wat eens in die gemeente was,
maar hulle dan afgeskei het, omdat hulle nooit werklik deel van Christus
se liggaam was nie (1Joh 2:19). Dis waarom Paulus gelowiges oproep om
hulleself op die proef te stel of hulle in die geloof is (2 Kor 13:5,
OAV). Dis waarom die Hebreërskrywer sy lesers so dringend waarsku. Dis
waarom hierdie dinge steeds gepreek moet word. Volharding
van die heiliges is egter steeds 'n heerlike Bybelse waarheid. Maar dan
moet dit reg verstaan word: diegene
wat God vir Homself geheilig het (oftewel afgesonder het) sal Hy
bekragtig om heilig te volhard tot die einde toe. En
'n heilige lewe het maar één watermerk van egtheid: gehoorsaamheid
aan God se Woord, vanuit 'n hart vol geloof in Christus, en gedring deur
'n hartstog vir Sy eer.
|