<<Terug na Dagstukkies

“Want vir my is die lewe Messiah en die sterwe wins” (Pilip 1:21).

Kennis van Jahshua is wins

 

 

Leer Jahshua Messiah vandag beter ken in Filippense 3:1-4:1

1. Verder, my broeders, verbly julle in JaHWeH. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. 2. Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. 3. Want ons is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Messiah Jahshua roem en nie op die vlees vertrou nie; 4. alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; 6. wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. 7. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Messiah wil skade geag. 8. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Messiah Jahshua, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Messiah as wins te verkry 9. en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Messiah is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10. sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11. of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Messiah Jahshua gegryp is. 13. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 14. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Messiah Jahshua. 15. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. 16. Maar wat ons reeds bereik het -- laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees. 17. Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. 18. Want baie -- van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê -- wandel as vyande van die kruis van Messiah. 19. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. 20. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Meester Jahshua Messiah, 21. wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp. 1. Daarom, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Meester, geliefdes.

Fokusgedeelte: Filippense 3:7-14

Elke mens het ideale. Jy het ideale vir jou studie, jou beroep, jou huwelik en gesin. Ook in jou lewe voor JaHWeH, moet jy as gelowige ‘n ideaal hê waarna jy strewe.

Paulus se ideaal was aanvanklik om vryspraak te verkry deur die wet van JaHWeH onberispelik te onderhou. Na sy ontmoeting met die Meester Jahshua het sy ideaal egter radikaal verander. Wat vroeër vir hom ‘n bate was, beskou hy nou as waardeloos. "Want" – sê hy – "om Messiah Jahshua, my Here te ken, oortref alles in waarde". Daarom sê hy: "Al wat ek wens, is om Messiah te ken" [10]. Dit is sy hoogste ideaal. Om Messiah te ken, beteken om so intiem saam met Hom te lewe dat jy volmaak sal wees, soos Hy volmaak is.

Paulus sê ook duidelik dat hy hierdie ideaal nog nie bereik het nie [vgl vers 12-13 OAV], maar omdat hy reeds aan Jahshua Messiah behoort, span hy hom in om dit te bereik. Soos ‘n atleet uit die blokke wegspring en afpyl op die wenstreep, so maak hy hom ook los van wat agter is en span hom in om sy ideaal te verwesenlik. Hy strek hom uit om dit te bereik, al weet hy dat hy dit eers sal bereik wanneer hy eendag sterf of wanneer Messiah weer kom.

Is dit ook jou ideaal as gelowige? Span jy jou in om dit te bereik? Die Here sê: "Almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê" [15].

GEBED: Stuur JaHWeH U lig en U waarheid; laat dié ons lei. Laat dié ons bring na U heilige berg en na U woninge. Gee Vader dat ons kan ingaan na U altaar. Ons dank U Vader dat ons tye in U hand is. U weet wat die beste vir ons is. Wees met almal wat vermoeid en belas is. Lei en bewaar ons asseblief deur hierdie dag. Ons bid dit in die Naam van Jahshua. AMEIN.

 

Psalm 16:1
Bewaar my tog, o God, op wie 'k vertrou!
Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.
Daar is vir my, in wat die oog aanskou,
geen goed bo U, so eind'loos hoog verhewe.
En wie op aarde-U ken en vrees, o JAHWeH,
húl noem ek groot, hul is my roem en ere.

<<Terug na Dagstukkies