<< Terug na Artikels



Die Geskiedenis van die Kruis

 

Inleiding

 

Dit gebeur soms dat ons wakker geskud moet word. Die Roomse Kerk het deur die eeue heen verskeie idees en gedagtes by die Gemeente of Vergadering van Jehushua ingebring. Gewoonlik het dit gegaan om losmaking van die Jode (Jahudim) of Judaïsme of alternatiewelik was dit om beter aanklank te vind by die heidene wat hulle by die Kerk wou betrek. Met die kruis was dit maar presies dieselfde. In hierdie geval was dit ‘n kwessie van beter aanklank by die heidene.

 

Die vraag sal seker vinnig gevra word: “Wat kon die Roomse Kerk nou tog met die Kruis te doen hê? Dit is immers volgens beide Afrikaanse en al die Engelse Bybels, hoe Jehushua vir ons sondes betaal het.” Kyk die sonwiel, maan en ster uit sonaanbiddery in die afbeelding!

 



 

 

Agtergrond - Ontstaan van heidense kruise

 

Om beter te verduidelik sal dit eers nodig wees om ‘n ondersoek te doen na die ontstaan van die heidense afgodskruis. Die kruis het reeds baie vroeg in die geskiedenis van die mens groot betekenis gehad vir die heidene. Soos ons almal weet het die ou heidense godsdienste hoofsaaklik die son aanbid en daarmee tesame ook die hemelruim met die planete, maan en sterre. Die jaargetye was vir hulle ook belangrik en veral die twee sonkeerpunte. Een in die somer en een in die winter. ‘Heilige’ pale was belangrik gewees en die skaduwees van die somer-sonkeerpunt en die winter-sonkeerpunt het mekaar op die grond gekruis. Die winter skaduwee is korter as dié van somer en in die noordwestelike dele van Europa het die twee skaduwees dan ook byna met ‘n regte hoek gekruis.

 

Hierdie kruis is soms met een lang been en een kort been voorgestel. Dit is ook met eweredige bene voorgestel en dan ook baie binne ‘n sirkel wat die son self voorgestel het. Daar is ook soms van ‘n addisionele kruis gebruik gemaak. Dit het die lente en herfs gety-wisselings voorgestel. Pleks van 4 bene was daar 8 (soms 6). Dit lyk dan ook soos die 8 speek-wiel. Dit was egter lank voor die wiel uitgevind is. Die wiel het egter ook later ‘n voorwerp van aanbidding geword. Die kruis is selfs gebruik in die uitleg van dorpe in verskeie plekke soos onder andere Ierland.

 

Sonwielle gebruik in sonaanbidding

 

      

 

 


Verskeie vroeë vorms van die kruis en sonwiel

 

Baie van die bogenoemde word uit rotskuns en ander opgrawings afgelei. In die midde-Ooste het ons egter van so vroeg soos 1500 vM bewyse dat die kruis met die son en dus die songod vereenselwig is.

 

Die Tau-kruis het groot falliese waarde ook gehad. In werklikheid veel meer as die gelykbenige kruis. Daar is ook die gedagte onder die geleerde navorsers dat die Tau-kruis ontwikkel het vanaf die byl – ‘n antieke simbool van die son en was wydverspreid. Dit is ook duidelik uit verskeie navorsing dat die Tau-Kruis die simbool van die mistieke Tammuz was. Ons weet ook dat Tammuz die Babiloniese songod is en dat Adonis en Adoni onderskeidelik die Griekse en Fenisiese weergawes is.

 

 

                  

 

Twee basiese vorms van die Tau-kruis

 

 

 


Die Ankh-kruis

 

Die Ankh-kruis weer is die simbool van die ewige lewe en was deur die Egiptiese gode gedra as merk van goddelikheid. Die Ankh het ook falliese verbintenisse. Daar is selfs diegene wat die Ankh verduidelik as die eenheid van die manlike en vroulike geslagsorgane. Die Ankh word ook deur sommiges die Tau genoem of die Tau met ‘n “handvatsel”. Die Ankh is ook die eerste kruis wat deur die Koptiese Christene van Egipte as simbool gebruik is.

 

      

 

 

 

Ontstaan van die sogenaamde 'christelike' kruis

 

Konstantyn het klaarblyklik ook ‘n “kruis” gesien wat hy moes gebruik as simbool om oorwinning te behaal. Wat egter duidelik na vore gekom het is dat daar selfs oor die “kruis” van Konstantyn nie eenstemmigheid is nie. Sommiges beweer dat dit die Griekse letter X (ons G of Ch) was. Ander weer dat dit beide die X en P (Ch en R) van die Griekse alfabet was. Daar is ook die wat beweer dat dit bo-op die son was. Nog ander beweer dit was die Ankh. Hoe dit ook al sy, na aanleiding van die oorsprong is dit duidelik dat die kruis, in ENIGE vorm, nie Jehushua ons Messias, die Seun van die Allerhoogste Elohim, JEHUAH, kan verteenwoordig nie.

 

In werklikheid het die Chi-Rho kruis – baie bekend by die Protestantse kerke – sy oorsprong baie lank voor die geboorte van Jehushua. Dit was deel van die sonwiel met 4 of 8 arms en het daaruit ontstaan. Die Rho of P word ook in verband gebring met die hamer van Thor of ‘n byl. Deur Konstantyn se ‘visioen’ het hy Jehushua maar net nog ‘n songod gemaak- nog een van baie.

 

 

Verskillende vorms en ontwikkelings van die Chi-Rho kruis

 

As ons verder gaan en kyk waar die idee van “kruis” of “kruisig” vandaan kom is ons verder in die duister. Dit kom glad nie in die Griekse Nuwe testament van die Bybel voor nie! Die Griekse woord stauros word verkeerdelik met kruis vertaal en die werkwoord stauroō met kruisig. Kyk bietjie wat sê WE Vine in sy Expository Dictionary of New Testament Words (1ste uitgawe 1940 - tot 17de uitgawe 1966):

 

 

CROSS, CRUCIFY

 

The Greek word: STAUROS (σταυρός) denotes, primarily, an upright pole, post or stake. On such malefactors were nailed for execution. Both the noun and the verb stauroō, to fasten to a stake or pole, are originally to be distinguished from the ecclesiastical form of a two beamed cross. The shape of the latter had its origin in ancient Chaldea, and was used as the symbol of the god Tammuz (being in the shape of the mystic Tau, the initial of his name) in that country and in adjacent lands, including Egypt. By the middle of the 3rd cent. A.D. the churches had either departed from, or had travestied, certain doctrines of the Christian faith. In order to increase the prestige of the apostate ecclesiastical system pagans were received into the churches apart from regeneration by faith, and were permitted largely to retain their pagan signs and symbols. Hence the Tau or T, in its most frequent form, with the cross‑piece lowered, was adopter to stand for the cross of Christ.

 

As for the Chi, or χ, which Constantine declared he had seen in a vision leading him to champion the Christian faith that letter was the initial of the word "Christ" and had nothing to do with  “the Cross”

 

Ons sien duidelik dat hierdie woord “stauros” ‘n paal of folterpaal (martelpaal) beteken. Daar is dus geen sprake van ‘n kruis in die Bybel nie. Dit is wel waar dat mense wel op kruise ook vasgenael was. Die folterpale het verskillende vorms gehad. Daar was die regop paal, die tau-kruis, ‘n T-paal en ook ‘n Y-paal of kruis. Dit is seker moontlik dat enige van hierdie gebruik kon gewees het. In die geval van die tau en T moes die veroordeelde die dwarshout – wat opsig self baie swaar was – na die plek van teregstelling dra. Met die ander vorms moes die veroordeelde die hele paal dra.


 

                                   

 

Verskillende folterpale van die tyd van Jehushua.Die eerste is 'n STAUROS


 

Wat interessant is, is dat die eerste groep “christene” wat die kruis as simbool begin gebruik het, dit lank na die ontstaan van die eerste Messiaanse Gemeente gedoen het. Dit was nie in opdrag van Jehushua of die Apostels nie. Verder het die gebruik van die kruis sy ontstaan grootliks te danke aan 2de eeuse Latynse vertaling van die Nuwe Testament waar die woord stauros met crux (kruis) vertaal. Die kruis is ook nie werklik in die Gemeente van ons Messias of in die opkomende kerk van Rome gebruik alvorens die 4de eeu nM nie. Daarna het dit groter en groter aanhang gekry en is die kruis opsigself aanbid. Selfs met al die aansien wat slegs die Allerhoogste Skepper Elohim toekom. Hierdie nuwe beweging wat deur Konstantyn in beweging gebring is het veroorsaak dat heidene die kerk binne gekom het en al hul rituele, simbole (soos die kruis) en bygelowe saamgebring het. Meeste hiervan was van die sonaanbidding afkomstig, soos Konstantyn homself.

 

Wat hierop gevolg het is natuurlik die “crucifix” oftewel Jehushua aan die kruis vasgenael! Wat ‘n vermetelheid! Dit was aanvanklik ‘n ‘lewendige’ Jehushua (Jesus), maar is later vervang met ‘n meer realistiese gemartelde en/of dooie beeld. Wat ‘n gruwelike verontagsaming van die Waarheid! Ons aanbid glad geen dooie Jehushua nie. Nog minder een wat steeds aan ‘n kruis of paal hang. Hy het reeds opgestaan en oorwin! Die folterpaal kon Hom nie vashou nie!

 

Verskillende Roomse en ander afgodsvorms

 

Gevolgtrekking

 

Die vroeë christene het die kruis en folterpaal vermy omdat dit iets gruweliks was. Hulle wou dit allermins sien om hulle heeldag daaraan te herinner (Deut 21:22, 23; Gal 3:13). Ons moet Jehushua se dood gedenk. Hy beveel dit self! Maar met ‘n kruis? Nee! Met die Pesach (Pasga) die Nagmaal! (Luk 22:19; 1 Kor 11:23, 24-26)

 

Die hervormers het geoordeel dat die gebruik van simbole en rituele onbybels en heidens is en nie deur die eerste gemeentes gebruik was nie. Dit was ’n latere ontwikkeling júís uit die tyd toe die kerk begin verval het. Om nou die kerk relevant te vernuwe met middele wat juis die vervalle middeleeuse kerk gekenmerk het, is riskant en onverantwoord. Die hervormers het vasgehou aan die absolute genoegsaamheid,  duidelikheid (claritas – helderheid) en verstaanbaarheid van die Skrif soos dit in sy heilshistoriese verbondenheid met Messiah lewend verkondig word in die gemeente.  Die Bybelse openbaring word as volkome duidelik en genoegsaam geag en het nie nodig om deur mensgemaakte voorwerpe en middele ondersteun te word nie. Dit is nie die mens wat die Bybel duidelik maak nie. Die Bybel maak homself duidelik. Die hervormers het aan Messiah, wat lewend teenwoordig is in die erediens deur Sy Gees en Woord, genoeg gehad.  Die teenwoordigheid en volheid van Messiah het nie die hulp of bemiddeling van simbole nodig nie. Die Messias alleen is genoeg. Ons mag niks byvoeg nie. Die belydenis van Chalcédon (451n.C.) dat Messiah se goddelike en menslike nature nie geskei kan word nie, is dus deur die Hervorming gehandhaaf. (Sien Artikel 19 NGB). Hy laat Hom nie in ’n simbool vasvang nie! Hy mag ook nie deur simbole vereer word nie! Om drie kerse aan te steek as simbool van die teenwoordigheid van die Drie-enige God is, om dit vanuit die Hervorming gesien, afgodery, duiwels en ‘n okkultiese ritueel. Hoe ernstig hierdie saak vir die ware gelowiges was, blyk uit die feit dat hulle bereid was om marteldode te sterf vir hul oortuiging van die Sola Scriptura (Die Woord alleen) beginsel.

 

Een en twintigste eeuse gemeentes wat met volle geloofsoortuiging suiwer wil bly en wil vashou aan die Woord, behoort dus te waak teen énige poging om die duidelikheid en genoegsaamheid van die Woord te ondermyn. Messiah is steeds in staat om deur Sy Woord en Gees met post-moderne mense te kommunikeer sónder die bemiddeling van mensontwerpte heidense hulpmiddels, simbole of rituele.

 

Die vraag is nou: wat staan ons te doen? Die Skrif sê die volgende:

 

Vlug uit Bael, en gaan uit die land van die Chaldeërs. En wees soos ramme voor die trop kleinvee uit!  – Jeremia 50:8

 

Vlug uit Babel, en red elkeen sy lewe! Moenie in haar ongeregtigheid afgesny word nie, want dit is die tyd van wraak vir JEHUAH (JHUH), die loon wat Hy haar betaal.   – Jeremia 51:6

 

“Gaan uit Babel! Vlug van die Chaldeërs! Verkondig met jubelende stem, laat dit hoor, stuur dit uit tot by die einde van die aarde! Sê JEHUAH  (JHUH) het Sy dienaar Jakob verlos!’” – Jesaja 48:20

 

En ook die volgende:

 

“Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.” – Jak 4:17

 

" Want indien ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie," He 10:26

 

Indien ons gehoorsaam wil wees aan die Woord van ons Almagtige Meester, die enigste Skepper, JEHUAH, moet ons ophou met die aanbidding, verering en gebruik van die kruis. Ophou om dit as simbool om ons nekke te dra. Ophou om dit as simbool of versiering in ons plekke van aanbidding aan te bring. Ons Elohim kan nie deel gemaak word van Babel of enige van sy afgode nie. Dit mag radikaal klink, maar dit is die waarheid. Dit het tyd geword om huis skoon te maak op elke gebied en rein voor ons Skepper, JEHUAH en Verlosser, Jehushua te staan.

Ek vertrou dat jy nie sonder meer hierdie boodskap sal verwerp nie en die Gees van Waarheid sal toelaat om jou te oortuig. Dan sal die Waarheid jou vry maak.

 

Joh 8:32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”.

 

HalleluJaH!

<< Terug na Artikels